On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Vilane onthou sy Everest-ekspedisie ná meer as ‘n dekade

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:54 Thu, 26 May 2016

Vilane onthou sy Everest-ekspedisie ná meer as ‘n dekade | News Article
Sibusiso Vilani

Bloemfontein - Dit is vandag presies dertien jaar gelede sedert die avonturier en motiveringspreker, Sibusiso Vilane, die eerste swart Suid-Afrikaner geword het wat die berg Everest in Nepal en Tibet uitgeklim het.


Dié 46-jarige boorling van Mpumalanga, wat as jong seun saam met sy ouers na Swaziland, sy ma se geboorteland, verhuis het, sê hy sal nooit dié groot oomblik vergeet nie toe hy op 26 Mei 2003 omstreeks 08:20 die wêreld se hoogste bergpiek van 8848m bereik het.

Dié voormalige wildbewaarder van ‘n reservaat in Swaziland het die suidelike deel van die berg in Nepal geklim. Vilane sê hy het die gevreesde berg geklim vir sy land en vir Afrika. Hy sien uit daarna om vandag dié historiese oomblik te onthou.

Daar gaan nie enige spesiale vieringe wees nie, maar hy beplan om die dag rustig tuis deur te bring. Hy gaan ver terugdink en sy oomblik op die berg onthou. Hy sê die berg Everest is nou in sy gesinslewe vervleg. Dit is deel van sy lewe en omdat Mount Everest nou nuusopslae maak, word hy opnuut aan elke oomblik wat hy daarop deurgebring het, herinner. Hy glo hy het ‘n spesiale band met die berg gevorm, maar is baie bewus daarvan hoe gevaarlik en liggaamlik en fisiek uitputtend dit is om berg te klim.

Dit kom nadat ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat in Australië gewoon het, Saterdag dood is nadat sy die gevreesde berg se piek bereik het. Die 34-jarige Marisa Strydom het saam met haar man, Robert Gropel, geklim en hul huweliksherdenking op 6 Mei in die Himalaja-bergreeks gevier. Sy het siek geword nadat die ekspedisie van die piek na die laer kampe geloop het. Sy was swak en het min energie gehad en is vermoedelik aan hoogtesiekte oftewel high altitude sickness dood.

Vilane, wat elke uitdaging aanpak, het die berg Everest weer vir ‘n tweede keer op 3 Junie 2005 van die noordelike kant af geklim. Hy sê hy is bevoorreg en geseënd gewees om dit weer te kon vermag. Dit was vir hom ‘n onvergeetlike en emosionele ervaring wat sy hele lewe verander het.

Niks hou Vilane in die lewe terug nie, en hy vat elke dag soos dit kom. Hy sê sy volgende uitdaging is eerskomende Sondag wanneer hy die Comrades-marathon tussen Pietermaritzburg en Durban die agtste keer aandurf.

OFM-nuus

- Download the OFM app in the Apple or Android app store to read the latest news/sports stories.


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.