On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Kom steek ‘n kers aan vir Amerikaanse nagklub-slagoffers

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:18 Wed, 15 Jun 2016

Kom steek ‘n kers aan vir Amerikaanse nagklub-slagoffers | News Article
Foto: Verskaf

Bloemfontein - Die massaskietery in ‘n Amerikaanse gay nagklub in Orlando, Florida, waarin tientalle mense dood en beseer is, het ook skokgolwe deur die hele lesbiese, gay, biseksuele, transgender en interseksuele gemeenskap in Suid-Afrika gestuur.

‘n Bloemfonteiner en Suid-Afrika se Mnr. Gay Mardi Gras vir 2016, Alexander Steyn, sê die tragiese voorval is hartseer en ontstellend.

Steyn sê die lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele en vraende (LGBTIQ) gemeenskap veg al lank vir hul regte om veilig te wees in plekke waar hulle onvoorwaardelik aanvaar word.

“Die gedagte om in ‘n veilige plek (hy verwys na die Amerikaanse nagklub vir gays) doodgeskiet te word, laat my sidder.” Hy verwys na die aanval op “sy mense” as ‘n aanval op homself asook alles waarvoor die LGBTIQ-gemeenskap staan. Dit gaan vir dié gemeenskap oor aanvaarding en liefde.

Mense kan vanaand by die NG Kerk Uitsig in Bloemfontein saamkom vir ‘n oomblik van stilte ter nagedagtenis aan die slagoffers van dié skokkende voorval. Steyn sê kerse gaan onder meer aangesteek word om ‘n boodskap uit te stuur dat liefde oor geweld seëvier. Dit begin om 19:00.

Dit kom nadat die skieter, Omar Mateen, ‘n veiligheidsbeampte, Sondag in die vroeë oggendure in die gay-nagklub, Pulse, in Orlando se middestad, op mense losgebrand het.

Hy is etlike ure daarna deur die polisie doodgeskiet. Mateen was vermoedelik die Islamitiese Staat (Isis) goedgesind. Reuters het berig dat hy die Amerikaanse nooddiens, 911, tydens die voorval gebel het en trou aan Isis gesweer het.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.