On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Local News

Potch-sakeleier verkies tot voorsitter van nuwe Aardklop-direksie

───   18:09 Tue, 28 Jun 2016

Potch-sakeleier verkies tot voorsitter van nuwe Aardklop-direksie | News Article

Potchefstroom - Die Aardklop Nasionale Kunstefees se direksie het Dewald van Breda as voorsitter van dié nuwe fees aangewys.


Van Breda is ’n bekende sakeleier in Potchefstroom en ook voorsitter van die Potchefstroom/Thlokwe-sakekamer. Hy is ook die eienaar van Potch Plastics.

“Dit is wonderlik om hierdie projek as ’n vars fees aan te pak, want dis ’n nuwe fees met ’n nuwe span, wat splinternuwe hoogtes sal bereik,” deel Van Breda.

Hy lê ook klem daarop dat die samewerking tussen die plaaslike sakebedryf en feesbestuur baie belangrik is en dat dit ’n doelwit is om die fees as ’n sterk rolspeler binne die breër kunstefeesomgewing te vestig.

“Dit is vir ons noodsaaklik om hierdie fees gemeenskapsgedrewe te hou en te verseker dat skole, kerke en die ganse gemeenskap in Potchefstroom by Aardklop baat. ’n Belangrike fokuspunt is die uitbou van die kunstebedryf sodat ons kan verseker dat die fees ’n noemenswaardige rol in die bevordering van die kunste as ’n geheel speel.”

Van Breda glo ook dat die fees Potchefstroom moet help groei. 

“Die ekonomiese impak van Aardklop op die dorp is uiteraard vir ons van groot waarde en dit is iets wat ten alle koste beskerm en uitgebou moet word, sodat ons sakegemeenskap voordeel daaruit kan trek. Dit is ook nie iets wat kortsigtig moet wees nie, want daar moet langtermyn voordele vir almal wees.”

Die feesbestuur en -direksie het ’n sterk Potchefstroom-teenwoordigheid, met die meerderheid lede wat daar bly of direkte bande met die dorp het.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees-direksie is:

Dewald van Breda - voorsitter

André Geldenhuis (Sakeman en Direkteur: Oudenuut)

Heinricha Hodgson (Prokureur en skuldberader: Heinricha Hodgson Prokureurs)

Ivor Price (RSG-omroeper en TV-persoonlikheid)

Japie Gouws (Besturende Direkteur: ATKV)

Karen Meiring (Direkteur: MNET Afrikaanse kanale)

Prof. Melville Saayman (Direkteur: Fokus Area, Noordwes-Universiteit)

Die registrasie van die nuwe maatskappy agter die fees, Potchefstroom Kunstefees, is nou afgehandel. Dit is ’n maatskappy sonder winsbejag en die fees kan nou onder die naam, Aardklop Nasionale Kunstefees, handel dryf.

Dit blyk ook dat daar oorweldigende ondersteuning vanuit die Potchefstroom-gemeenskap is.

“Behalwe vir al die boodskappe van ondersteuning is daar rééds besighede wat ingespring het en betrokke geraak het met donasies en die skep van ’n nuwe infrastruktuur,” sê Alexa Strachan, die feesbestuurder.  “Ons weet daar is ’n groot behoefte aan die voortbestaan van Aardklop. Ek is omring deur mense wat onbaatsugtig gee en deel wil wees in hierdie opwindende tyd wat voorlê.”

Verklaring verskaf

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.