On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Staat wil kinderverkragter vir sielkundige evaluering stuur

───   ANDRE GROBLER 15:52 Wed, 17 Aug 2016

Staat wil kinderverkragter vir sielkundige evaluering stuur  | News Article

Bloemfontein - Die Staat wil die 42-jarige man van Sasolburg, wat aan 37 klagte van kinderverkragting skuldig bevind is, vir sielkundige evaluering stuur voor sy vonnisverhoor.


Die man is vanoggend ook skuldig bevind op 18 aanklagte van seksuele aanranding, 541 klagte weens die besit van kinderpornografie, 109 weens verspreiding en 228 weens die vervaardiging van kinderpornografie.


Regter Jack Moloi het in sy uitspraak met die Staat saamgestem dat die man die minderjarige kinders opsetlik verkrag het en dat dit bo redelike twyfel bewys is.


Die hof het die man se eie getuienis oor die verkragtingsdade as vals beskou en dit verwerp.


Regter Moloi het bygevoeg dat die man nie 'n goeie indruk op die hof gelaat het nie.


Volgens die hof was hy onsamehangend en ontwykend.


"Ek stem saam met die Staat dat die beskuldigde die hof so dom ag dat hy gereken het hy kan enigiets sê en daarmee wegkom."


By die meeste van die aanklagte is die man se twee minderjarige dogters betrokke, asook maatjies wat by hulle gekuier het.


Regter Moloi het gesê die man het self getuig hoe hy die meisies "bekruip en betas het" terwyl hulle geslaap het.


Die saak volg nadat die Australiese polisie, deur Interpol, hul Suid-Afrikaanse kollegas oor die man se internetbedrywighede ingelig het.


Ná die uitspraak het die Staat die hof ingelig dat hulle die man vir sielkundige evaluering wil stuur voor vonnisverrigtinge.


Die saak is tot 1 November uitgestel.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.