On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Local News

DA-raadslid later vandeesweek ter ruste gelê

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:20 Mon, 22 Aug 2016

DA-raadslid later vandeesweek ter ruste gelê | News Article

Kimberley - Die DA in die Noord-Kaap staan die naasbestaandes van die vermoorde DA-raadslid in Daniëlskuil, Johannes Baaitjies, met begrafnisreëlings by.


Dit kom nadat Baaitjies se lyk verlede Woensdagaand met skietwonde langs ‘n pad tussen dié dorp en Postmasburg gevind is. Provinsiale voorsitter, Harold McGluwa, sê verskeie gedenkdienste sal in die loop van die week gehou word. Meer besonderhede oor ‘n begrafnisdiens eerskomende Saterdag sal in die loop van die week beskikbaar wees. 

McGluwa sê die DA is verlig oor die inhegtenisneming van ‘n verdagte in Postmasburg verlede Vrydag. Volgens hom sluit die DA nie die moontlikheid uit dat Baaitjies se koelbloedige moord  polities gemotiveerd was nie. McGluwa sê Baaitjies het verlede week glo aan ‘n kollega opgemerk dat hy doodsdreigemente van ANC-lede ontvang het. Baaitjies was onoorwonne in sy wyk in die Plaaslike Munisipale Verkiesing en het koalisie-samesprekings met die Kgatelopele-gemeenskapsforum gevoer om Wyk 2 by die ANC oor te neem.

"Die DA het nooit verwag dat politieke onverdraagsaamheid ná 22 jaar van demokrasie tot ‘n moord sou lei op ‘n klein dorpie soos Daniëlskuil nie." Hy loof ook die polisie vir hul goeie werk en hoop dat “geregtigheid sy gang sal gaan”.   McGluwa sê Baaitjies was ‘n hardwerkende en toegewyde mens en sy dood is ‘n groot verlies.

Die DA dra Baaitjies se familie en vriende in die moeilike tyd in sy gebede op. Die DA sal aan die tussenverkiesing vir Daniëlskuil se Wyk 2 deelneem om Baaitjies te vervang. McGluwa sê die man wat saam met Baaitjies voor sy dood in die motor was, is steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal. Sy naam gaan nie bekend gemaak word nie weens die sensitiwiteit van die ondersoek. Hy het skietwonde opgedoen. 

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.