On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Bultfontein-gemeenskap en polisie beveg misdaad saam

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:25 Mon, 12 Sep 2016

Bultfontein-gemeenskap en polisie beveg misdaad saam | News Article

Bultfontein - Inwoners en boere van Bultfontein, Wesselsbron en Hoopstad in die Vrystaat se paraatheid asook goeie samewerking met die polisie het die naweek in twee afsonderlike voorvalle vrugte afgewerp.


Vier vermeende veediewe is Vrydag aangekeer nadat 14 skaapkarkasse in ‘n veld sowat 13km van die plaas waar die skape na bewering gesteel is, gevind is. Boere en die plaaslike veiligheidstruktuur, asook die polisie, was vinnig op die toneel. 

Die voorsitter van Bultfontein-distrikslandbou, Herman Meiring, sê vyf vermeende huisrowers, wat met ‘n groen minibus vermoedelik betrokke was by verskeie huisbrake op dié dorpe, is Vrydagmiddag in die bestek van ‘n halfuur aangekeer. Dit nadat inligting rakende die minibus wat gesoek word vroeër per sms’e op veiligheidsnetwerkgroepe in die distrik versprei is. Boere en die polisie was vinnig op die minibus se spoor.

Volgens hom het ‘n onderwyseres van Bultfontein die gesoekte minibus omstreeks 14:00, toe sy op pad huis toe was, gesien. Sy het die inligting op die sms-groepe versprei en die minibus vir ‘n ruk op die pad tussen Bultfontein en Wesselsbron agtervolg. Meiring sê iemand het dieselfde gesoekte minibus Donderdagaand op Bultfontein gewaar. 

Hy sê boere het ná die onderwyseres se inligting langs die pad tussen Bultfontein en Wesselsbron gewag en paaie is versper. Meiring het die polisie in kennis gestel waarna polisiebeamptes van Bultfontein die minibus van agter gevolg het. Polisielede van Wesselsbron het van voor op die bussie afgery. 

Toe die booswigte die polisie en boere met hul bakkies gewaar, het hulle op ‘n grondpad afgedraai. Daar was ook boere op dié pad. Hulle het die minibus net daar gelos en weggehardloop. 

Hy sê die vyf verdagtes, wat gewapen was, is in hegtenis geneem. Beweerde gesteelde artikels wat vermoedelik tydens huisbrake op die dorpe gebuit is, is gekonfiskeer. Dit is vir forensiese ontleding gestuur.

"Boere wil nie die polisie se pligte oorneem nie, maar mense in dié distrik is baie paraat, veral omdat voorvalle van die diefstal van vee en koperkabel (soos op Theunissen) handuit ruk. Die samewerking is ongelooflik.”

Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, het in ‘n mediaverklaring gesê die vermeende veediewe verskyn vandag in die landdroshof op Bultfontein. Die polisie het nog nie kommentaar gelewer oor die vyf vermeende huisrowers nie.

Die boer aan wie die beweerde gesteelde skape behoort en wat verkies om anoniem te bly, het alle betrokkenes bedank vir hul spoedige reaksie om die diewe aan te keer.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.