On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Kettingbotsing op N1 eis twee lewens

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:49 Thu, 29 Sep 2016

Kettingbotsing op N1 eis twee lewens | News Article
Verskaf deur die polisie

Kroonstad - ‘n Gedeelte van die N1 tussen Kroonstad en Koppies by Heuningspruit in die Vrystaat, wat gister bykans die hele dag gesluit was vir verkeer ná ‘n kettingbotsing waarin twee mans dood is, is omstreeks 20:00 gisteraand weer oopgestel.


Dit kom nadat ‘n kleinerige vragmotor Dinsdagaand omstreeks 23:00, vermoedelik weens sterk wind, omgeslaan het. Die vragmotor het in die rigting van Bloemfontein gery. Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê 'n ander vragmotor, wat groot kunsmissakke vervoer het, het by die toneel gestop om verkeer te waarsku.  

Hy sê twee mans in ‘n bakkie het agter dié vragmotor gestop, waarna ‘n derde vragmotor met swaar staalpype in die bakkie vasgejaag het. Die bakkie is ‘n ent gesleep en is onder die vragmotor met die kunsmis vasgepen. Gaobepe sê polisiebeamptes en nooddienswerkers het ure lank gespook om die vrag van die vragmotor waaronder die bakkie beland het, af te laai. Die insittendes in die bakkie se lyke kon eers gistermiddag uit die wrak verwyder word. Volgens Gaobepe het die opruimingswerk lank geneem omdat die vrag swaar staalpype eers met spesiale toerusting verwyder moes word. Motoriste moes gister van alternatiewe roetes gebruik maak.

Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg is via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei is. Volgens Gaobepe is die bestuurder van die vragmotor met die swaar staalpype na 'n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan. Gaobepe sê die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.