On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Jagtogte met wrede honde op plase ‘n groot kopseer vir boere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:17 Mon, 17 Oct 2016

Jagtogte met wrede honde op plase ‘n groot kopseer vir boere | News Article

Heilbron - Vrystaat Landbou (VL) is lankal besig om opleiding in samewerking met die polisie aan boere te gee oor die vereistes vir siviele inhegtenisnames op die platteland.


Voorsitter van VL se wet-en-orde-komitee, Tommie Esterhuyse, sê dié poging het gister vrugte afgewerp toe boere sewe verdagtes aangekeer het wat honde gebruik het om onwettig op 'n plaas naby Heilbron te jag. 

Esterhuyse sê VL se landelike beveilingsplan is in werking gestel en boere van VL en lede van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) was vinnig op die toneel. 

Die booswigte is agternagesit en is later aan die polisie oorhandig. Volgens hom is tussen 20 en 30 honde, waaronder basters en windhonde, deur die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) van die toneel verwyder. 'n Volstruis is doodgebyt en 'n dooie haas is by die verdagtes gevind. 

Esterhuyse sê die gebruik van uitgehongerde honde om vee, wild en ander diere op plase wreedaardig dood te byt kom nou al hoe meer voor. Twee van die booswigte het weggehardloop. 

"Boere se nerwe is dun." Hulle patrolleer snags landelike gebiede, bedags moet hulle boer. Boere is baie gespanne, veral weens droogtetoestande en geldelike druk. Toenemende misdaad en die gebruik van honde om te jag op plase is ook ‘n bydraende faktor. Esterhuyse sê die jagtogte op plase vind veral Sondae plaas omdat dit gerieflik vir booswigte is. 

Plase is 'n maklike teiken omdat boere Sondae meestal kerk toe gaan en daar is niemand om dan na hul vee in die veld om te sien nie.

Esterhuyse sê wrede honde word vir dié jagtogte gebruik sodat honde-eienaars vleis kan kry. Hy sê weddenskappe word ook aangegaan deur eienaars van hierdie honde wat geld ontvang sodra hul hond die eerste is wat ‘n ander dier op ‘n plaas doodbyt.  

In nog 'n voorval is 'n Springbokkie op 'n plaas naby Edenville deur honde doodgebyt, wat vermoedelik ook in 'n jagtog gebruik is. Die honde het die bokkie deur drade op 'n plaas gejaag. Esterhuyse sê die booswigte is aangekeer.

Hy sê VL is ook in besit van inligting dat plase in die Parys- en Frankfort-distrikte geteiken gaan word. Soortgelyke rooftogte waarin tussen 200 en 300 honde gebruik word om op plase te jag word beplan.

Twee verdagtes is ook gister in 'n afsonderlike voorval deur boere op 'n plaas aangekeer 'n ent verder van die plaas waar daar met honde gejag is. Hulle is in besit van beweerde gesteelde dakplate en balke van 'n opstal op die onbewoonde plaas gevind. 

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.