On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Heilbron-plaasaanval afgeweer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:47 Thu, 27 Oct 2016

Heilbron-plaasaanval afgeweer | News Article

Heilbron - Drie verdagtes verskyn na verwagting vandag in die landdroshof op Heilbron in die Vrystaat nadat hulle na bewering ‘n winkeleienaar op die plaas Vyandsvlei wou aanval.


Die beplande aanval is egter afgeweer danksy die oplettendheid van ‘n werknemer en die spoedige reaksie van boere in die distrik. 

Polisiewoordvoerder, Livhuhani Hani, sê die verdagtes word aangekla van betreding omdat hulle nie met ‘n moontlike plaasaanval verbind kan word nie. 

Vrystaat Landbou (VL) se Tommie Esterhuyse sê 'n werker was Dinsdagoggend op pad werk toe. Hy het vreemde mans by sy werkgewer en die winkeleienaar, Kerry Moody, se plaashuis gewaar. Hy het sy werkgewer gebel en gewaarsku om in sy huis te bly en nie uit te kom nie. Die werker het na ‘n buurman se plaashuis gehardloop om hulp te ontbied. Esterhuyse sê die distrik se beveiligingsnoodplan is geaktiveer. Boere het hulle na Moody se huis gehaas.

Hy sê vyf boere in bakkies was vinnig op die toneel en het drie van die vyf verdagtes agternagesit en ‘n ent van die plaashuis aangekeer. Twee mans het weggekom. Toue en bruin kleefband is in die verdagtes se besit gevind. Esterhuyse sê die feit dat die aanval afgeweer is, is ‘n duidelike aanduiding dat boere saamstaan en die landelike beveiligingsplan toepas in samewerking met die polisie om plattelandse gebiede te beveilig.

Esterhuyse sê Moody is al voorheen aangeval, maar die distrik se beveiligingsplan is in werking gestel en die verdagtes is ook deur boere aangekeer en is nou agter tralies.

Esterhuyse sê VL is deurlopend besig om veiligheidsbewustheid onder gemeenskappe te kweek. ‘n Veiligheidsberaad wat gemik is om verhoudinge tussen boere en die polisie te versterk vind vandag op Trompsburg plaas.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.