On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Local News

Beweerde renosterstropers buite Bloemfontein aangekeer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:45 Wed, 30 Nov 2016

Beweerde renosterstropers buite Bloemfontein aangekeer | News Article
File photo

Bloemfontein - Twee Mosambiekse mans met hangende sake van beweerde renosterstropery in Limpopo en twee van hul makkers, ook oorspronklik van Mosambiek, is die naweek net buite Bloemfontein aangekeer.


Provinsiale woordvoerder van die Valke, S'fiso Nyakane, sê die verdagtes se motor is Saterdagmiddag in 'n intelligensie-gedrewe veldtog in samewerking met die polisie se hoofwegpatrollie op die N1 langs 'n vulstasie afgetrek. Dit kom nadat die Valke die verdagtes, wat van Pretoria is, se bedrywighede sedert verlede Vrydag gevolg het. Hulle is buite Bloemfontein aangekeer toe hulle op pad terug van die Oos-Kaap na Pretoria was.

Hy sê die verdagtes se motor is deursoek. Daar is op 'n .458-kaliber-geweer, tien patrone, 'n knaldemper, 'n byl, asook sement en vloeistof waarmee renosterhorings geseël word nadat dit verwyder is, beslag gelê. Daar is ook op die verdagtes se motor beslag gelê.

Die verdagtes het Maandag vlugtig in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie verskyn. Hul onmiddellike aansoek om borgtog is nie toegestaan nie.

Daniel Chauque (38), Tony Mbilankulu (39), Kimione Rangani (36) en Joao Chauque (26) sal na verwagting eerskomende Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Chauque en Mbilankulu het hangende sake van beweerde renosterstropery teen hulle. Volgens Nyakane is Daniel en Joao broers.

Die polisie in die Vrystaat se woordvoerder, Peter Kareli, het OFM-nuus Maandag na die Valke verwys wat die ondersoek oorgeneem het. Kareli het egter die inhegtenisneming bevestig.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.