On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Rugby

Cheetahs vol selfvertroue in Australië

───   MORGAN PIEK 11:24 Tue, 19 Apr 2016

Cheetahs vol selfvertroue in Australië | News Article
Lood de Jager - Nicolette Taljaard

Die Toyota Cheetahs glo dat hulle hul Australiese toer in die Super Rugby-reeks oor drie weke onoorwonne kan afsluit.

Die span is tans in Melbourne waar hulle voorberei vir hul eerste kragmeting wanneer hulle die Rebels Vrydagaand pak.

Die Cheetahs het na Australië vertrek met hernieude selfvertroue nadat hulle die afgelope naweek in die Rosestad die Sunwolves van Japan ‘n 92-17 pakslae gegee het.

Die Rebels is tans die sterkste van die drie Australiese spanne wat die Cheetahs gaan pak, met vier seges in hul sewe wedstryde tot dusver.

Die Waratahs het op hul beurt twee oorwinnings, terwyl die Reds dié seisoen slegs een sege het.

Die losskakel, Niel Marais, het kort ná die span se eerste oefensessie aan OFM Sport gesê dat hulle op hul kontinuïteit wil bou met seges in Australië.

“Ons wil ‘n bietjie momentum bou voordat ons terugkeer huis toe en die Southern Kings en Stormers voor die internasionale breek pak.

“Ek sien nogal uit na die naweek en ons hoop ons kan die toer goed afskop.”

Die Cheetahs se Springbok-slot, Lood de Jager, glo dat hulle die Rebels, asook die Reds en Waratahs, kan troef.

Dié hemelbesem het uit Australië gesê dit is moontlik om al drie te klop, maar dit gaan moeilik wees.

“Ons is baie positief ná ons goeie wen teen die Sunwolves. Baie dinge het vir ons in plek geval en ek dink ons het goed gedoen.

“Dit gaan ‘n harde toer wees. Die Australiese spanne is altyd moeilike spanne om tuis te speel, maar ons glo ons kan al drie van hulle wen.

“Ons glo ons kan enige span in die kompetisie wen. Ons weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ons sien uit daarna.

“As ons al drie hierdie wedstryde kan wen, gaan dit ons in ‘n baie goeie posisie in die Suid-Afrikaanse konferensie sit.

“Hopelik kan ons die resultate kry en die mense daar in Bloemfontein trots maak.”

Die Cheetahs en Rebels het nie verlede jaar in die Super Rugby teen mekaar gespeel nie, maar het egter in 2014 in Melbourne kragte gemeet.

Op dié dag het die span van Victoria met 35-14 oor die Cheetahs geseëvier.

Vrydagoggend se kragmeting tussen die Rebels en die Cheetahs by AAMI-park skop om 11:45 af.

Morgan Piek/OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.