On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Special Reports

FEATURE: Kontakteregte: wat om te doen

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:44 Wed, 25 Nov 2015

FEATURE: Kontakteregte: wat om te doen | News Article

Die jaar is byna op sy einde en met die skoolvakansie om die draai gebeur dit dikwels dat geskeide ouers hare kloof oor besoekreëlings en waar en by wie die kinders vakansies deurbring.


In ‘n ideale wêreld sou gesinne nooit opbreek nie en indien wel, sou die uitoefening van ouerlike regte en verpligtinge wat kinders betref vinnig en maklik tussen die ouers uitgesorteer word. Ongelukkig is dit anders in realiteit en duik geskille gereeld op oor die uitoefening van ouers se regte teenoor hul kinders.

Die biologiese ouers het outomaties sekere ouerlike regte en verantwoordelikhede teenoor hul biologiese kinders. Biologiese moeders, hetsy getroud of nie, beskik oor volle ouerlike regte en verpligtinge ten opsigte van haar kinders. Die vader van ‘n kind, wanneer hy getroud is met die ma, beskik ook onmiddellik oor volle ouerlike regte en verantwoordelikhede wat betref daardie kind. Ongetroude vaders verkry volle ouerlike verantwoordelikhede en regte wanneer hulle voldoen aan die volgende vereistes soos neergelê in Artikel 21 van die Kinderwet:

  • As hy ten tyde van die geboorte saam met die ma gewoon het in ‘n permanente saamwoon-verhouding.

  • Indien hy nie saam met die ma gewoon het ten tyde van die geboorte nie, hy homself geïdentifiseer het as die vader van die kind; bydra, of poog om vir ‘n redelike tyd tot die kind se opvoeding by te dra; en ook indien hy tot die onderhoud van die kind bydra of probeer bydra.

Dit is belangrik om te verstaan dat die plig van ‘n vader om die kind finansieel te onderhou in samewerking met die moeder, nié verwar moet word met sy ouerlike regte nie. ‘n Pa of ma van ‘n kind kan nie verhoed word om sy/haar regte wat betref versorging van en kontak met die kind, uit te oefen, bloot omdat die party nie finansieel bydra tot die onderhoud van die kind nie.

Wanneer verhoudings opbreek en kinders betrokke is, moet die kinders permanent by een van die ouers woon en sal die ander ouer regte verkry om kontak met die kind uit te oefen. Dit gebeur ongelukkig soms dat kontakregte gefrustreer óf in geheel van die betrokke ouer ontneem word, veral oor vakansietye. In ander gevalle gebeur dit ook dat die ouer wat die reg tot kontak het, dié reg oorskry deur byvoorbeeld te weier om die kind aan die ouer met primêre versoring terug te besorg wanneer hy/sy moet.

Ouers moet altyd onthou dat wanneer hul regte uitgeoefen word, hulle die beste belang van die kind as die deurslaggewende faktor moet beskou. Dit is immers die kind se reg om ‘n verhouding met albei ouers te hê en te bou, en behoort die ouers se gevoelens teenoor mekaar nooit die kind se belange negatief te beïnvloed nie.

Indien dit egter gebeur dat die ma byvoorbeeld weier om die kind na die pa te laat gaan vir die betrokke gedeelte van die vakansie of naweek wat hy die kind moet sien, moet oorweeg word of die weiering redelik en in die beste belang van die kind is. Gewoonlik sal dit slegs redelik wees indien die kind in gevaar by die ander ouer sal wees. Indien nie, moet die partye hul bes probeer om op ‘n volwasse en vreedsame wyse die geskil op te los, aangesien dit vir alle partye betrokke die meeste voordeel sal inhou.

Indien die partye eenvoudig nie die geskil kan uitsorteer nie, mag geen party die reg in eie hande neem nie, en word dit aanbeveel om dan ‘n prokureur of die Kinderhof vir hulp te nader. Indien nie eens regsverteenwoordigers die ander ouer kan oortuig om die onregmatige optrede stop te sit nie, sal die hof genader word om die benadeelde party se regte te beskerm en af te dwing. Dit word gedoen by wyse van ‘n aansoek, en sal ‘n Regter in die Hooggeregshof of ‘n Landdros in die Kinderhof, dan ‘n bevel moet gee wat die ouer wat kontak op ‘n onredelike en ongegronde basis weier, te verplig om die kind na die ander ouer te laat gaan.

In uiterste gevalle kan die polisie se hulp ingeroep word om die ouer wie se regte gefrustreer word, te beskerm. Ouers moet egter baie versigtig hiermee omgaan, aangesien ingryping deur die polisie gewoonlik ‘n baie traumatiese ervaring vir die kind is en in die meeste gevalle meer skade aanrig as goed doen.

In ‘n neutedop:

  • Die regte van ouers om vir hul kind te sorg en ‘n verhouding met die kind te hê, staan sekondêr tot die kind se reg om versorg te word en om ‘n verhouding met sy ouers en familie te hê.

  • Die kind se beste belang is kardinaal en moet altyd seëvier.

  • Ouers moet hul bes doen om die geskille tussen hulle vreedsaam uit te sorteer om die beste belang van die kind te dien.

  • Indien regte onredelik gefrustreer word, moet die reg nie in eie hande geneem word nie;

  • Spreek ‘n prokureur of nader die Kinderhof en bring ‘n aansoek om jou regte te beskerm en af te dwing.

  • Waar ‘n kind se lewe egter in gevaar is, nader die polisie.


Senior joernalis, Christal-Lize Muller, het in OFM-nuus se maandelikse insetsel oor verskeie regskwessies by Ilze Strydom van die regsfirma Phatshoane Henney in Bloemfontein uitgevind oor kontakregte en wat ouers te doen staan wanneer hulle regte nie nagekom word nie.






Christal-Lize Muller/OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.