On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Boere Droogtehulp SA reik uit na droogtegebied tydens Covid-19-inperking

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 17 Jun 2020

 Boere Droogtehulp SA reik uit na droogtegebied tydens Covid-19-inperking | News Article
FOTO: Bloemfontein Courant

Die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, stoom voort om hulp aan landbougemeenskappe in dorre gebiede van die Noord- en Oos-Kaap te verleen.


Chris van Beljon, stigter van dié maatskappy, sê hulp is deurlopend sedert die aanvang van die nasionale Covid-19-inperkingstydperk aan boere verleen. Hoofsaaklik veevoer is versprei in dié gebiede, maar selfs kospakkies is uitgedeel aan gemeenskappe wat in nood verkeer. Hy sê dié maatskappy verleen ook nou hulp aan gemeenskappe in onder meer Rustenburg en Bloemfontein wat kosnood ervaar weens die impak van dié pandemie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Beljon gepraat....


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê droogtehulp is van dag een van die nasionale inperkingstydperk deurlopend verleen, al weeg die ekonomiese impak van dié pandemie swaar op Suid-Afrikaners. Dit bemoeilik Boere Droogtehulp SA se geldinsamelingspogings. 

Dié maatskappy sou voor die aanvang van die vlak 5  inperkingstydperk 'n groot hoeveelheid veevoer by Kenhardt naby Upington in die Noord-kaap aflewer, maar dit moes noodgedwonge gekanselleer word. Daarna is slegs enkele vragte met veevoer in dié gebied versprei. Altesaam 18 vragmotors het veevoer oor dié tydperk in dié gebied afgelewer.  Hy sê veevoer is ook in ander Noord-Kaapse gebiede, soos Upington, Williston en Calvinia afgelewer. In die Oos-Kaap is veevoervragte in Willowmore en Aberdeen versprei. Boere Droogtehulp SA het ook nie probleme ondervind om reispermitte vir die aflewering van veevoer te bekom nie. 

Van Beljon sê boere kry nog swaar weens die droogte ten opsigte van veevoer vir hul kuddes, wat ook reeds uitgedun is.  Dit het kol-kol gereën, maar dit was glad nie genoeg nie.  Die situasie vererger op plase in dié droogtegebiede, omdat skenkings nie deurlopend en op 'n gereelde grondslag plaasvind nie. 

Dié maatskappy het tydens die grendeltydperk besef daar moet deurlopend vragte met veevoer in gebiede versprei word weens die groot nood wat daar is onder boere. Dit is noodsaaklik om boere te ondersteun sodat hulle kan voortgaan met hul boerderybedrywighede en hul diere kan voed in dié droogtetoestande. Kospakkies en ander basiese noodsaaklikhede se warm klere en komberse is ook aan gemeenskappe uitgedeel, omdat daar talle mense in landelike gebiede is wat in dorpe bly en nie kos het nie, omdat hulle werkloos is. 

Hy sê in Rustenburg in Noordwes is Boere Droogtehulp SA in samewerking met Buffalo Foundation verantwoordelik vir 2 700 mense wat daagliks van gekookte kos voorsien word. Dié maatskappy help gemeenskappe in stede ook wat  tydens die Covid-19-pandemie swaartrek. Eerskomende Saterdag gaan 61 gesinne in Bloemfontein kospakkies ontvang.

Dit was Chris van Beljon, stigter van die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, slegs op die Agri-Uur. OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri SA asook Agri Noord-Kaap, en Boere Droogtehulp SA is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.