On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Bedryf bly staande ná #Covid19-uitdagings - Beefmaster

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Fri, 11 Sep 2020

Bedryf bly staande ná #Covid19-uitdagings - Beefmaster | News Article
FOTO: Verskaf

Die beesvleisbedryf het uitstekend gevaar en staande gebly tydens die strenger inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie.


Dit is volgens Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster Groep, wat meen regulasies is tydens die inperkingstydperk in die Staatskoerant gepubliseer en die bedryf moes dit vinnig interpreteer, al was daar grys gebiede. Interpretasies moes gemaak word oor hoe die bedryf steeds kan voortgaan met produksie, veilig wees en so min as moontlik mense in die proses negatief raak, om die ekonomie van die beesvleisbedryf aan die gang te hou. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Reenen gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê dit was duidelik uit die beesvleisbedryf se reaksie en optrede dat daar steeds vlugvoetig opgetree kan word. Dié bedryf kon vinnig beweeg tydens dié tydperk en die nodige is gedoen in terme van wat wetlik vereis word. 


Aanpassings tydens inperkingsregulasies

Van Reenen sê die Beefmaster Groep se grootste bate is sy mense (werknemers) en daarom het dié groep gefokus op hulle veiligheid. Die groep se werknemers het nie meer geld gehad om vir taxi-vervoer op te dok nie. Daar is wel daarop gelet om die werkers in dié verband te ondersteun. Daar is ook navorsing gedoen oor hoe dié groep sy werkers se immuniteit kan opbou deur die gebruik van vitamiene en aanvullings en dit aan die sowat duisend werkers van die groep beskikbaar te stel.

 

Uitdagings weens dié pandemie 

Verbruikers se vermoë om vleis te koop is 'n probleem, sê Van Reenen. Daarmee saam was daar 'n afname in prys vir verskaffers wie se omset ook gedaal het. Die bedryf was egter gelukkig om tydens die inperkingstydperk as 'n noodsaaklike diensverskaffer geklassifiseer te word, sodat daar voortgegaan kon word met produksie. Dit was egter nie maanskyn en rose gewees nie. Volgens Van Reenen is dit wel so dat vleis uitgevoer kon word, maar dit moet in ag geneem word dat lande soos Egipte ook gewroeg het met die pandemie en inperkingsregulasies. Dit geld vir Dubai ook. Dié lande waarna daar vleis uitgevoer kon word, is ook deur hierdie wêreldpandemie geraak en die bedryf in geheel is daaraan blootgestel, maar dit het steeds goed gedoen om te kom waar die bedryf vandag is. Daarmee saam het 'n oorskot in beesvleis tydens die pandemie ontstaan, en van dié voorraad is steeds in bergingsgeriewe, omdat daar nie 'n mark daarvoor is nie. Planne sal gemaak moet word om nou van dié vleis in die mark beskikbaar te stel.  


Toekoms

Van Reenen meen as 'n bedryf in geheel sal daar klein treë geneem en konserwatief gedink moet word oor wat voorlê. Daar moet nie ooroptimisties gereageer en aangeneem word dat alles skielik net weer in plek gaan val nie. Dit is 'n feit dat die Suid-Afrikaanse ekonomie kruppel gelaat is en dit moet in konteks gesien en verstaan word.


OFM-nuus

 


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.