On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Stoetteler dankbaar dat hy van sy diere kon red

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:25 Thu, 22 Oct 2020

Stoetteler dankbaar dat hy van sy diere kon red | News Article

'n Stoetteler van die Hertzogville-distrik in die Vrystaat, wat groot verliese gely het weens wegholveldbrande in dié gebied, is steeds dankbaar dat hy van sy diere betyds kon red.


Johan du Plessis sê sy stoetkudde bestaan uit Brangus- en Wagyu-beeste. Dit is waardevolle diere en hy is dankbaar oor die diere wat hy kon red al het 'n klomp van sy stoetbulle in die slag gebly. Du Plessis het 30 stoetdiere verloor, waaronder vroulike diere ook. Hy het ook al sy weiding verloor. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat.

Hy sê hulle het Sondag behoorlik bontgestaan toe die brand in Hertzogville ontstaan het nadat betogers na bewering betoog het oor swak dienslewering. Hy sê die vlamme het vinnig in die grasveld versprei. Volgens hom het die brand nie op 'n sekere punt gewoed nie, die vlamme was wyd verspreid. Terwyl hy en sy vrou hul diere van die vlamme wou red en na veiligheid aangejaag het, het hulle besef die vlamme gaan hulle op 'n kol kan vaskeer.  Daar was nêrens 'n punt waar hulle die vlamme kon vryspring nie. Soos die vlamme nader beweeg het, was dit 'n groot gedruis.  Hy sê hitte en rook oorval 'n mens.  Die rook belemmer sigbaarheid en 'n mens sukkel om asem te kry. Hy vertel hy en sy vrou kon die vlamme vryspring.

Volgens hom is daar in 'n situasie soos dié nie tyd om te veel te dink nie. 'n Mens fokus net op jou eie veiligheid en om jou diere op 'n veilige plek weg van die vlamme te kry. Die adrenalien loop dan hoog. Die werklikheid van die belang om te oorleef tree dan in, sê hy. Die verwoesting wat veroorsaak is aan die veld en infrastruktuur is sigbaar, maar dit is 'n ander gevoel om te sien hoe diere doodgebrand het.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.