On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

TLU SA stel Jongboerkompetisie 2020 finaliste bekend

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 19 Nov 2020

TLU SA stel Jongboerkompetisie 2020 finaliste bekend | News Article

Die wenner van vanjaar se Jongboerkompetisie, wat jaarliks deur TLU SA aangebied word, sal op 23 November 2020 tydens ‘n geleentheid in Silverton, Pretoria, aangekondig word.


Drie top-finaliste is onlangs deur die organisasie bekend gemaak en Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê daar is groot pryse op die spel. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom oor die kompetisie gesels...

Die uitbraak van die Covid-19-virus en regulasies wat in plek gestel is om dié virus hok te slaan, het tot verskeie uitdagings gelei. Een hiervan is dat die virus beoordelaars belemmer het om kandidate se plase te besoek op die voorgeskrewe tydperke. Van Zyl voeg by dat die organisasie trots is op hierdie kompetisie want dit is hoe hulle glo die toekoms van landbou gebou word. “[Die jongboere] is so positief en entoesiasties en hulle toekomsmissie is so - ek kan amper sê - aansteeklik. Dit maak ‘n mens dankbaar dat daar sulke jongmanne is wat die pad vat al die pad vorentoe,” deel Van Zyl.

Hy sê beoordelaars kyk na verskeie aspekte wanneer hulle die plase besoek. Daar word onder meer gekyk na die jongboer se produksie-, risiko- en arbeid-bestuursmodel, sy finansiële beplanning en kontantvloei-begrotings, sowel as sy gemeenskapsbetrokkenheid.


Die drie finaliste vir 2020 is:

CT van der Merwe (35) van Dendron in Limpopo. CT boer die afgelope 13 jaar op Al3 Boerdery met aartappels, botterskorsies, uie, beeste en het onlangs ook drakevrugte (dragon fruit) by hulle produkte gevoeg.

Danie Bester (35) van Balfour in Mpumalanga boer al vir 17 jaar. Hy boer die afgelope 12 jaar op Rietbult met mielies en sojabone.

Janis Terblanche (32) van Marble Hall in Limpopo boer al vir tien jaar. Hy het die Janis Terblanche Boerdery ses jaar gelede gekoop en boer voltyds met druiwe.

Intussen sê die president van TLU SA in ‘n verklaring, “hoewel ons opgewonde is dat die toekoms van landbou in hierdie bekwame hande lê, maak dit die taak van ons beoordelaars aansienlik moeiliker om ‘n wenner aan te kondig!”


Pryse op die spel

‘n Oorsese reis na die Manitou-fabriek in Frankryk,

R25 000 kontant van Santam,

R10 000 kontant van CMH Kempster Ford Hatfield, en

Santam gee ook R15 000 aan die naaswenner en R10 000 aan die derde plek.

Boere wat belangstel om volgende jaar in te skryf vir die Jongboerkompetisie kan deur hulle boereverenigings inskryf. Daar is sekere vereistes waaraan voldoen moet word, naamlik die deelnemer moet onder die ouderdom van 35 jaar wees. “Dit gaan ook nie daaroor dat jy saam met jou pa boer nie - ons kyk na die aspekte waarvoor jy die verantwoordelikheid op die plaas moet aanvaar en ons evalueer dit. So, ‘n jongman wat saam met sy pa boer, selfs ‘n voorman, kan ook inskryf,” voeg Van Zyl by.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.