On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Veediefstal: ‘n Emosionele saak vir boere

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 16 Nov 2021

Veediefstal: ‘n Emosionele saak vir boere | News Article

Die impak van veediefstal word nie altyd besef nie en dié misdaad is ‘n emosionele saak vir boere.

Dit is volgens Jess de Klerk, ‘n verteenwoordiger van Saai, wat sê daar word jaarliks - in die Vrystaat alleen - sowat 4 000 veediefstalsake gerapporteer, maar daar is ook baie gevalle waar boere nie sake rapporteer nie. 

Sien onderstaande PODCAST

De Klerk sê in ‘n verklaring dat meeste boere “apaties is teenoor die probleem en word eers kwaad daaroor as daar by hulle gesteel word”.

Hy is van mening dat die huidige metode en manier wat boere en die polisie volg om veediefstal te bekamp, nie doeltreffend genoeg is om die probleem op te los nie. Daar word al vir jare lank gefokus om die veediewe te vang, in hegtenis te neem en skuldig te vind, en as gevolg hiervan, word daar baie tyd, mannekrag en geld bestee.

De Klerk sê dit sal beter wees om eerder vas te stel waar hierdie vee geneem word. Dit sal verg dat die huidige strategie verander moet word. Hy sê die suksesvolle voorkoming van veediefstal kan slegs gedoen word deur te fokus op wat die omvang, modus operandi van sindikate, en afsetpunte van gesteelde vee is.

Hy moedig boere aan om seker te maak hulle brandmerk hulle vee, vul die nodige dokumente in en om self hulle diere op ‘n daaglikse basis te tel. Dit, om kontrole te hou en om bewus te wees van wat in hulle krale aangaan.

Dan is die nie-rapportering van veediefstal ‘n groot probleem, sê De Klerk. Statistiek Suid-Afrika het bekend gemaak het dat die nie-rapportering van dié misdaad sowat 70,7% is.

LEES: Wees op jou hoede vir veediefstal gedurende feestyd 

Ná Minister van Polisie, Bheki Cele, se besoek aan Bethlehem, het die Vrystaatse polisie uit hulle pad gegaan om veediefstal te help bekamp, en daarvoor sê De Klerk is hulle baie dankbaar.

OFM-nuus het vroeër berig dat dié tyd van die jaar gewoonlik gekenmerk word deur ‘n toename van veediefstalgevalle op plase. Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomingsforum (VVF) in die Vrystaat, sê een van die moontlike redes vir die toename in veediefstal is omdat daar baie mense is wat werkloos is en dit vir hulle ‘n bron van inkomste is.

Sy voeg ook by dat veediefstal reeds hierdie tyd van die jaar begin toeneem en tot ná die nuwejaar kan voortduur.

LEES: Die belangrikheid van regsdokumente vir diegene in die veebedryf 

Verder word boere deur De Klerk versoek om seker te maak dat die nodige dokumentasie – Artikel 6 en 8 van die Wet op Veediefstal, Wet Nr. 57 van 1959 – korrek en volledige ingevul word.

Kruger het ook voorheen beklemtoon dat Artikel 6 te doen het met die oordrag van eienaarskap van vee.

Sy voeg by dat die dokument waarna in artikel 8 verwys word, ook ingevolge die Wet op Veediefstal, die vee-verwyderingsertifikaat is.

Kruger sê hierdie twee dokumente is baie belangrik en lewendehawe produsente benodig dit as hulle vee vervoer en vee aankoop. Hierdie dokument word ingevul wanneer vee verkoop word of na ‘n veiling toe geneem word.

Die Artikel 8-dokument is die vee-verwyderingsertifikaat en dit word nie deur die verkoper ingevul nie. Die persoon wat die vee koop en hulle vervoer se besonderhede moet op die artikel 8-dokument ingevul word.

Besoek die VVF en Saai se webtuistes vir meer inligting.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.