On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Wegholveldbrande verwoes Trompsburg

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:27 Mon, 19 Nov 2018

Landbounuus-podcast: Wegholveldbrande verwoes Trompsburg | News Article

Dit is nog té vroeg om die omvang van die skade te bepaal nadat 'n wegholveldbrand in die Trompsburg-gebied uitgebreek en vinnig versprei het.


Johann Breytenbach, algemene bestuurder van die Vrystaatse sambreel-brandbeskermingsvereniging, (VSSBBV)sê dié brand het Donderdagmiddag ontstaan, Vrydag weer opgevlam en is eers Saterdag in die vroeë oggendure onder beheer gebring.  Hittegolftoestande en wind het daartoe bygedra dat die brand vinnig en intens versprei het.  


'n Boer in die Trompsburg gebied, FC Alexander, sê die verwoestende brand het Donderdagmiddag op sy plaas Stofkraal,vermoedelik weens Eskom-drade, uitgebreek. In die warm en droë toestande is die vlamme vinnig deur sterk wind aangeblaas en die lang gras, wat goed gegroei het na vorige goeie reëns, is verwoes. Alexander sê hy is dankbaar vir plaaslike en ander boere en hul plaaswerkers van ander distrikte wat kom help het.  

Hy sê dit was 'n onmoontlike taak om die vlamme te keer en brandbestryders het meestal gefokus om vee in die veld te red. Hy het sowat 4000 hektaar veld, en sowat 500 skape in die brand verloor, en is nog in die proses om van sy skape wat erge brandwonde opgedoen het, van kant te maak. Alexander sê daar is van sy skape wat in die veld was wat die vlamme vry-gespring het. 


Volgens hom is dit die grootste brand nóg in dié distrik.


Paul Fick, die eienaar van 'n plaaslike wind-pomp-besigheid, is ernstig beseer, toe hy met sy motorfiets gaan help het om heining-drade te knip sodat diere nie deur die vlamme vasgekeer word nie. Hy het in die proses geval.  Alexander sê Fick is steeds in 'n ernstige toestand in 'n Bloemfonteinse hospitaal.

EN

Hittegolftoestande van die afgelope week in groot dele van die sentrale binneland is vir nou eers verby en ietwat laer temperature met broodnodige reën kan vandeesweek verligting bring. 'n Voorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor,  Elani Heyneke, sê koeler temperature kan teen Dinsdag in die Noord-Kaap voorkom. Daarmee saam word enkele donderbuie in die oostelike en sentrale deel van die Vrystaat en Noordwes voorspel. Winderige toestande duur voort.


Volgens Heyneke is die brandgevaar Dinsdag in die Noord-Kaap en die suidwestelike deel van die Vrystaat hoog.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.