On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Boere in Sentraal SA bid saam vir reën

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:24 Fri, 01 Nov 2019

Landbounuus-podcast: Boere in Sentraal SA bid saam vir reën | News Article
OFM News/Christal-Lize Muller

Talle boere in 'n groot deel van die sentrale binneland is steeds in die wurggreep van die ernstige droogte, maar hulle bly hoopval dat die eerste goeie reën op pad is.


Poena de Wet, 'n boer in die Haaskraal-gebied buite Potchefstroom, glo boere moet nou op hul knieë bly en bid vir reën. Hy sê boere moet vasbyt, want die eerste goeie reën gaan binnekort val en verligting bring. De Wet sê  saai- en besproeiingsboere asook veeboere in dié gebied is nou in die knyp. De Wet was Vrydagoggend onder boere en plaaswerkers byeen was by Hinterland se Potchefstroom-tak se biddiens vir reën. Hinterland het soortgelyke dienste by sy sowat 59 handelstakke in Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga gehou. Die takbestuurder van Hinterland Potchefstroom, Waldo Venter, sê die inisiatief, wat jaarliks gehou word, gee aan boere die geleentheid om moed te skep en vas in hul geloof te staan, want die droogte raak baie mense se lewens. Daarmee saam het werknemers van Hinterland Potchefstroom ook die biddiens by dié tak bygewoon.  William Labasi, wat al jare by dié handelstak as 'n verkoopsklerk in die onderdele-afdeling werksaam is, sê boere se rol in die landbou is belangrik en gemeenskappe moet saambid vir reën.

EN

Die Boks-vir-'n-Boervrou-projek wat deur die Vroue-landbouvereniging (VLV) van Wellington in die Wes-Kaap van stapel gestuur is, word uit alle oorde in die land goed ondersteun. Die Uitvoerende Hoof van AfriForum, Kallie Kriel, sê dié skenkingsprojek is ongelooflik. Mense se welwillendheid en omgee verskaf hoop vir die toekoms. Kartonbokse word verpak met allerlei lekkernye en basiese items, soos toiletware, en aan vroue op plase in droogtegeteiserde dele van die Karoo versprei. AfriForum en die vervoermaatskappy, Aramex, is nou aan boord en versprei die bokse na die onderskeie gebiede. Kriel sê AfriForum het aangebied om 'n versendingspunt in Pretoria te wees en gemeenskappe se skenkings is oorweldigend. Hy sê 'n hele vleuel van dié burgerregte-organisasie se kantoor in Pretoria is vol bokse wat deur weldoeners geskenk is. Bokse word ook in Bloemfontein, Kimberley en die Boland versamel. Kriel sê bokse kan nog by AfriForum se kantoor in Pretoria afgelewer word. Juanita Loubser en Karen Barnard van VLV in Wellington is aan die stuur van die Boks-vir-'n-Boervrou-projek, waarvan oor die 10 000 bokse al versprei is. Vir meer inligting besoek dié projek se Facebook-blad.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.