On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: VL distansieer hom van mense wat identifikasiepermit misbruik

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:31 Fri, 27 Mar 2020

Landbounuus-podcast: VL distansieer hom van mense wat identifikasiepermit misbruik | News Article

Vrystaat Landbou (VL) aanvaar geen verantwoordelikheid vir mense wat 'n identifikasiepermit misbruik nie, wat deur dié organisasie aan sy lede beskikbaar gestel is om te toon dat hulle bona fide produsente is.


Dié permit is beskikbaar nadat die regering die landboubedryf as 'n noodsaaklike diens verklaar het, en daarom kan bedrywighede in landbou tydens die nasionale inperkingsperiode van 21 dae voortgaan. Dit is egter onderworpe aan streng regeringsprotokol. Die inperkingsperiode is Donderdag om middernag in werking gestel in 'n poging om die  verspreiding van die Covid-19-pandemie te beheer. Gernie Botha, regsverteenwoordiger van VL, sê dit is 'n groot bron van kommer dat VL se permit nou wyd onder mense wat nié lede van  dié organisasie is nie, versprei word. Botha sê VL, asook Agri SA, se inligting is op dié permit aangebring en dit plaas dié organisasie in 'n moeilike posisie, veral ten opsigte van die bestaande vertrouensverhouding met die onderskeie regeringsdepartemente. Dié departemente maak staat op organisasies soos VL om tydens die inperkingsperiode die nodige protokol te volg.

Intussen het die vrugteprodusente-organisasie, Hortgro, ook 'n permit in Engels en Afrikaans beskikbaar gestel vir die vervoer en beweging van werknemers in die landboubedryf. Dit moet gebruik word tydens die nasionale inperking van 21 dae. Plase en pakhuise gaan voort met hul bedrywighede en werknemers moet vervoer word nadat die regering besluit het om die landboubedryf vry te stel van die beperking op beweging, omdat produksie,  verspreiding en verskaffing van kos en basiese goedere noodsaaklik is. Elise-Marie Steenkamp, Hortgro se kommunikasiebestuurder, sê dit is belangrik dat werknemers dié permit ten alle tye toon wanneer daar gereis word, hetsy dit te voet of per voertuig is. Sy sê dit is ook noodsaaklik dat hulle hul identiteitsdokumente byderhand het. Vir meer inligting besoek Hortgro se webtuiste.

EN

Daarmee saam doen twee van Suid-Afrika se gevestigde landbou-organisasie 'n ernstige beroep op hul lede om nou waaksaam te wees tydens die nasionale inperking van 21 dae wat Donderdag om middernag in werking getree het. Agri SA en TLU SA vra ook dat die polisie in dié tydperk sigbaar sal wees in landelike gebiede. Dié twee organisasie het daarom onderneem om nou saam met die polisie te werk sodat daar voortgegaan kan word met kosproduksie. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike veiligheid, sê skakeling met plaaslike beveiligingstrukture, die instandhouding van die plaasgemeenskap se beskermingsmaatreëls, asook die daarstel van ‘n plaaslike gebeurlikheidsplan in samewerking met die polisie, is van die aspekte wat nou plaaslik aandag moet geniet.

 

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.