On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-bulletin: Agri SA se voedselinisiatief bou momentum

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:19 Thu, 06 Aug 2020

Landbounuus-bulletin: Agri SA se voedselinisiatief bou momentum | News Article

Agri SA se R1 miljard voedselinisiatief om honger gemeenskappe te voed is in volle swang.


Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die projek bou momentum en gemeenskappe wat geraak word deur die Covid-19-pandemie se negatiewe ekonomiese gevolge, asook gemeenskappe wat deur die droogte geteister word, baat hierby. Agri SA het onlangs 'n beroep gedoen op die regering asook die private sektor om by te dra tot dié inisiatief, want daar is 'n groot behoefte aan hulp om te oorleef. Jansen sê die afgelope twee maande het boere van Suid-Afrika meer as 900 ton se varsprodukte geskenk aan Food Forward Suid-Afrika, vir die verspreiding daarvan regoor die land. Dit vorm deel van die R1 miljard-voedselinisiatief om die plaaslike kosnood wat ontstaan het weens die Covid-19-pandemie, se ekonomiese gevolge aan te spreek. Jansen sê die goeie nuus is dat droogte-geteisterde gebiede ook daarby baat. Jansen sê kritieke vennootskappe met betrokkenes verskaf aan Agri SA toegang in die waardeketting en dit sal massiewe tasbare waarde ontsluit vir dié organisasies se Second Harvest-programme deurdat produkte wat na hoë-risiko gemeenskappe versprei word, se voedingswaarde verhoog word.

Intussen is die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, nog kliphard aan die werk om hulp aan landbougemeenskappe in provinsies soos die Noord- en Oos-Kaap te verleen. Chris van Beljon, stigter van dié maatskappy, sê daar is steeds gedeeltes in dié provinsies wat bitter min en selfs geen reën gehad het nie. Van Beljon sê dit gaan egter broekskeur ten opsigte van skenkings deur gemeenskappe en dit is te verstane, en weens die impak van die Covid-19-pandemie op mense se geldelike situasie. 'n Derde van dié organisasie se maandelikse inkomste wat verkry is deur middel van skenkings deur weldoeners, vind nie meer plaas nie. Van Beljon sê dié maatskappy wat onlangs geoudit is en wat se finansiële state beskikbaar is vir diegene wat dit wil sien, gaan egter nie stilstaan en ophou hulp verleen nie. Skenkings, wat veevoer en selfs kos en ander noodsaaklike benodigdhede insluit, word steeds aan gemeenskappe verskaf sonder dat hulle daarvoor moet betaal.

EN

Intussen moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry. Skenkings kan ook gedoen word. Skakels van organisasies, soos Boere Droogtehulp SA, Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop. 


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.