On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: VF+ bekommerd dat vermeende plaasaanvaller vrygelaat is

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:00 Fri, 07 Aug 2020

Landbounuus-podcast: VF+ bekommerd dat vermeende plaasaanvaller vrygelaat is | News Article

Die Vryheidsfront Plus neem met kommer kennis van mediabewerings dat die polisie in Lesotho ‘n vermeende plaasaanvaller vrygelaat het, weens swak reëlings aan die kant van die Suid-Afrikaanse polisie.


Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier, sê die verdagte word verbind met die aanval op die 80-jarige Daleen van der Hoven in Julie vanjaar. Sy is in haar plaashuis by Zastron aangeval en is ernstig beseer toe haar aanvallers haar met ‘n panga teen die kop gekap het. Haar vier aanvallers het haar daarna in haar voertuig oor die grens na Lesotho ontvoer waar sy in ysige toestande langs die pad gelaat is. Een van die aanvallers is aangekeer, maar is onlangs, na sowat drie weke in aanhouding, deur die Lesotho-polisie vrygelaat. Groenewald sê dié politieke party gaan navraag oor die bewering by die regering doen.

Die Kaapstadse hooggeregshof behou uitspraak oor die regering se omstrede tabakverbod wat vir meer as vier maande in plek is weens die  Covid-19-pandemie se staat van inperking.   Die regters in die hofstryd tussen British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisonele sake en die president, het ook nie aangedui wanneer uitspraak verwag kan word nie. Batsa, en nege applikante waaronder die Suid Afrika Agri-inisitatief (Saai), betwis die verbod op die verkoop van tabakprodukte konstitusioneel en administratief. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê  die verbod druis in teen sekere regte soos menswaardigheid, privaatheid, liggaamlike en psigiese integriteit.

Saai verteenwoordig tabakboere in die hofgeding en daar word aangevoer dat Regulasie 45 van die Rampbestuurswet dié boere ontneem van hul reg om 'n bedryf, beroep of professie te kies. Tabakboere ly aan enorme ekonomiese skade, omdat hulle geen kopers vir hul tabak het nie. Boere kan nie hul werksaamhede voortsit nie en daar is geen skedule waarvolgens hulle hul beplanning kan doen nie. Rossouw sê produsente se produksiekwotas is reeds gesny. Rossouw sê dit is ook nie lewensvatbaar om slegs op uitvoer staat te maak nie. Die verwagte verlies aan aksynsbelasting vir die fiskus is ongeveer R35 miljoen per dag.

EN

Virtuele openbare verhore oor die wysiging van die wetsontwerp oor die regte van grondbesit vind eersdaags plaas. Dié wetsontwerp beoog om die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte van 1991 te wysig. Dit is om voorsiening te maak vir die aansoek om omskakeling van grondregte op eiendomsreg en om voorsiening te maak vir die kennisgewing aan belanghebbendes rakende 'n aansoek om grondbesitregte in eienaarskap te omskep. Sureshinee Govender, mediabeampte van die Parlementêre kommunikasiedienste, sê dié wetsontwerp maak ook voorsiening vir belanghebbendes om beswaar aan te teken teen dié omskakeling, en om voorsiening te maak vir die instelling van navrae om te help met die bepaling van grondregte. Daar word ook voorsiening gemaak vir verontregte mense om aansoek by 'n hof in te dien vir toepaslike verligting. Dié openbare verhore vind op 18 en 19 Augustus plaas.




OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.