On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 21 Jan 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Hier is Laubscher…

Sien onderstaande PODCAST

In vandeesweek se insetsel praat Laubscher oor globale risiko’s. Laubscher sê die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se verslag oor globale risiko’s is onlangs vrygestel en die moeite werd om te oorweeg.

“In die aanloop tot die inhuldiging van die Amerikaanse president is die VSA op ‘n ongekende basis reg vir moontlike interne terreur. Dié vooruitsig laat die res van die wêreld spreekwoordelik na sy asem snak. Wat egter ook noemenswaardig is, is die mate waartoe dit wat reeds as politieke onverdraagsaamheid in die VSA gesig gewys het, nie die endemiese aard van nuwe risiko’s vergestalt nie.

“Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se 2021 verslag oor globale risiko’s is onlangs vrygestel en die moeite werd om te oorweeg. Hier ter plaatse kan diesulke blootlegging van sake wat lande se herstel ná die pandemie kan beïnvloed, nie geïgnoreer word nie. Teen hierdie tyd is dit gemene saak dat Covid-19 naas die Tweede Wêreldoorlog die grootste toets vir die mensdom is. Daar is al baie geskryf oor die inklusiwiteit wat afgedwing is en wat tot gevolg het dat geen land in isolasie kan dink en doen oor die hantering van Covid-19 nie. So byvoorbeeld is daar geldige beroepe vanuit die geledere van ontwikkelende lande wat pleit by die ontwikkelde lande om te help met inenting.

“Dit word ‘n aanklag teen die bevoorregtes as hulle ‘n blinde oog wil draai op die wie om baie ander redes in elk geval sukkel om net te oorleef. In daardie opsig is daar geen wegkruipplek vir diegene wat hulle bevoorregting as ‘n reg afdwing, versus dié in werklike nood nie. Immunisering bly ten beste ‘n middel tot ‘n doel, want dit sal baie mense in staat stel om te help met die heropbou enersyds, maar andersyds om ook bevoordeel te word deur ontwikkeling wat hulle verdien.

“Die eerste risiko word omskryf as digitale fragmentering wat enersyds gedryf word deur ongelyke toegang tot tegnologie. Meer in besonder is die risiko van uitsluiting as gevolg die ontoeganklikheid van internetkoppeling en die pas waarteen 5G tegnologie toegepas gaan word.  Kunsmatige intelligensie is bemagtigend, maar terselfdertyd ook uitsluitend, met die gevolg dat ongelykheid kan toeneem.  Een van die onderliggende risiko’s hier is die verwagte toename in kubermisdaad. Saam daarmee is onvoldoende beleidaanpassings ook ‘n bewese risiko.

“In die tweede instansie word die bedreiging van ‘n gebrek aan ekonomiese stabiliteit en sosiale kohesie. Voor die pandemie was grenslose markte gemene saak, maar die pandemie het wêreldhandel ontwrig met die sluit van grense en voorkeur aan plaaslike produkte en dienste. Verdere verswarende faktore is die toekoms van jong mense. Vir hulle is daar min goeie vooruitsigte vanweë ‘n legio uitdagings soos werkloosheid. Ekonomieë het wêreldwyd ingekrimp en hoe en waar gewerk gaan word, het nog geen duidelike direktiewe nie.

“Die pandemie het sake onomkeerbaar verander en het ‘n nuwe byna onbestuurbare onrustigheid tot gevolg gehad. Ontevredenheid met inperkings en die toepassing van reëls was en is aan die orde, en hierdie onrustigheid is die derde risiko wat die WEF uitwys.  Opeenvolgende vlae van die pandemie en toegang tot entstowwe, onvoldoende mediese hulp, ens., is ‘n vreemde ervaring.

“Die druk op mediese geriewe, toegang tot basiese mediese sorg en regerings wat dit probeer regstel het ‘n verdere belangrike aspek uitgelig, naamlik die bekostigbaarheid van die onafwendbare teenreaksie.  Die somme van wat die pandemie lande kos en nog gaan kos, is nog lank nie gefinaliseer nie. Fiskale tekorte is aan die orde en dit is juis die ontwikkelende lande wat die swaarste getref word. Geen begroting is skielik die papier werd waarop dit uitgewerk is nie, want konvensies word omver gegooi.  

"Terwyl daar geld bestee moet word om die impak van die pandemie te probeer versag en die oordrag van die virus beter bestuur moet word, is geen land [vrygeskeld] van die normale voor-Covid-19 sosiale verpligting nie. Trouens daar is nou groter aanspraak op sosiale beskerming en al het die pandemie gewys op die onvoldoende vlak van geagte hulp of sosiale steun, kan regstelling ook nie bekostig word nie. 

“Waar laat dit landbou? Gelukkig kon die sektor grootliks aangaan met die besigheid van kosproduksie. Daar is bedrywe wat onomkeerbaar verwoes is soos die wyn- en tabakbedryf, maar ‘n groot deel van die landbou kon markte bedien. Wat egter belangrik is, is die vermoë van die landbou om bogenoemde risiko’s betyds te identifiseer en sektor-spesifieke remedies vroeg genoeg te ontwikkel,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.