On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

Sprinkaanuitbraak onder beheer in NK

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 03 Mar 2021

Sprinkaanuitbraak onder beheer in NK | News Article
Foto: BBC

Die sprinkaanuitbraak in die Noord-Kaap is tans onder beheer maar die situasie word fyn dopgehou.

So sê Danie Jacobs, voorsitter van Agri Noord-Kaap se omgewingsakekomitee. Hy deel dat daar egter nog swerms in onder meer die Kenhart- en Carnavon-omgewings is. 

Sien onderstaande PODCAST

Jacobs verduidelik dat alhoewel die sprinkane onder beheer is, is hulle egter op hulle hoede om te verhoed dat die sprinkane nie verder beweeg nie. Dit, aangesien die sprinkane ‘n risiko vir mielielande in die Vrystaat inhou as dit sou verder beweeg.

“Basies kan jy die volgende lyn trek van Keimoes, Kenhart, en dan kan jy deurgaan na Carnavon en Vosburg tot by die Wes-Kaapse grens, en hy gaan ook oor tot by Maraisburg. So, dit is basies die hele gebied, en van daar af oos in die Noord-Kaap is daar sprinkane – maar nie so ver soos Hartswater nie,” voeg Jacobs by.

Hy sê boere in die Douglas-omgewing het egter skade aangeteken en moes ook in die Hopetown-omgewing hard werk om sprinkaanswerms uit die mielielande te hou.

Jacobs sê daar is twee depots in die provinsie, naamlik De Aar en Upington, waarna diegene wat bereid is om sprinkane te bespuit kan gaan om middels daarvoor te kry. Hy voeg egter by dat hierdie persone eers ‘n kursus moet voltooi om hulself te vergewis van die gevare en hoeveelhede wat gebruik moet word wanneer hulle die gif gebruik.

Hy sê hierdie kursus is noodsaaklik omdat dit verseker dat die persoon nie net die regte hoeveelheid gif gebruik nie, maar ook voedselsekuriteit in die proses waarborg.

Jacobs deel verder dat hierdie eendagkursus gewoonlik deur die jaar deur die provinsiale departement van landbou aangebied word, maar sodra daar sprinkaanuitbrake in die provinsie is, word hierdie kursusse vir eers tot verdere kennisgewing uitgestel. Hierdie opleiding vind ook per streek plaas.

Indien die publiek sprinkaanswerms wil aanmeld, kan hulle die volgende nommers skakel: De Aar depot - 053 631 3621 of Upington depot - 082 457 2906.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.