On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: SA wolmark toon styging

───   ELSABÉ RICHARD 11:39 Fri, 05 Mar 2021

Landbounuus-podcast: SA wolmark toon styging | News Article

Die Suid-Afrikaanse wolmark het vandeesweek ‘n effense styging getoon.

Heinrich Victor, bestuurder van spesiale dienste by OVK, sê hierdie styging kan toegeskryf word aan die verswakking van die Rand, asook die navolging van die sywaartse beweging van die Australiese mark. Hy sê met dit in gedagte, word 'n verdere sywaartse beweging vir volgende week voorspel. Victor sê die volume wol wat vandeesweek in die makelaars se pakhuise ontvang is, is 6,2% laer in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in die vorige seisoen. Luidens Victor het volhoubaar gesertifiseerde (RWS) goeie kwaliteit merinowol weer eens goeie aandag geniet op die veiling en tot gesonde kompetisie tussen kopers gelei. Hy voeg by dat sertifisering ‘n belangrike aspek is en 'n toekomsneiging is wat gekom het om te bly. Die volgende wolveiling is geskeduleer vir 10 Maart 2021, waar sowat 10 223 bale aangebied sal word.

EN

Dit is noodsaaklik dat alle lewendehawe-agente vertroud is met die inhoud van die biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente, soos wat dit op 13 November 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is. Luidens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is die reëls hoofsaaklik ingestel om, onder meer, die lewendehawe-agentebedryf te reguleer. Daar is 'n spesifieke verwysing na voorsorgmaatreëls wat by veilings vereis word om die risiko van die verspreiding van beheerde, aanmeldbare en ander dieresiektes te verminder. Die RPO sê verder hoewel die reëls van toepassing is vanaf die datum van publikasie, sal ‘n bykomende grasietydperk van ses maande toegelaat word sodat alle lewendehawe-agente hulself van die inhoud van die reëls kan vergewis, hul infrastrukture en prosesse, waar nodig, kan aanpas en op volkome nakoming voorberei. Die implementering van die biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente moet voor of op 30 Junie 2021 gefinaliseer wees. Hierdie maatreëls sluit in die verpligte registrasie by die Landbouprodukte-agenteraad (APAC), sowel as ‘n eksterne oudit van die veilingsgeriewe en alle biosekuriteit-prosedures wat elke twee jaar deur ‘n onafhanklike ouditeur onderneem moet word.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.