On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Groot kommer oor Landbank, sê Ekonoom

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 08 Apr 2021

Groot kommer oor Landbank, sê Ekonoom  | News Article

Daar bestaan groot kommer oor die finansiële vermoëns van die Landbank om finansiering aan boere te verskaf.

Prof. Johan Willemse, ‘n landbou-ekonoom, sê dié bank is tengnies bankrot en sukkel selfs om sy krediteure te betaal. 

Sien onderstaande PODCAST

Willemse sê die Landbank is ook ‘n belangrike finansiële verskaffer aan ondermeer Unigro en GWK.

Hy sê dié bank moes verlede week R400 miljoen aan Standard Bank betaal en moes ook skikkingsooreenkomste met ander krediteure bereik. 

“Die Landbank is basies insolvent. Die staat het belowe hy gaan R7 miljard beskikbaar stel om die Landbank in die besigheid te hou, maar daar is nie duidelikheid oor hoe die fondse gaan vloei nie. Nou probeer die Landbank om skikkingsooreenkomste met die mense aan wie hy geld skuld, aan te gaan - want sonder daardie fondse kan hy nie vir boere finansiering gee nie,” verduidelik hy.

Willemse sê daar is heelwat boere wat via Unigro en ander landboubesighede van Landbank finansiering afhanklik is. Hy raai egter boere aan om vroegtydig alternatiewe finansiering te reël voor “jy die geld nodig het in die nuwe produksieseisoen. Die Landbank sit met baie mense se verbande en om ‘n verband te verander is nie so eenvoudig nie…”

Willemse se opmerkings volg nadat OFM-nuus onlangs berig het dat die landbousektor ‘n onsekere toekoms in die gesig staar as die Landbank en Nasionale Tesourie nie 'n wedersydse aanvaarbare plan met die krediteure van die bank kan bereik nie en oor hóé, ondermeer, om ongeveer R40 miljard-skuld te geherstruktureer.

Dr. John Purchase, die uitvoerende hoof van Agbiz het gesê Landbank, sy kredietverskaffers en Nasionale Tesourie was - volgens 'n bron - betrokke by 24-uur-onderhandelinge voor die sperdatum van 31 Maart, oor die toekoms van die bank.

Nasionale Tesourie het in Junie verlede jaar R3 miljard bewillig as 'n aandelebelegging om die bank te herkapitaliseer. Dit is gevolg deur 'n aankondiging in Oktober deur die minister van finansies, Tito Mboweni, dat Nasionale Tesourie op mediumtermyn nog R7 miljard sal bewillig om Landbank te help met die herstrukturering daarvan.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.