On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Voëlgriep by tweede boerdery in Gauteng bevestig

───   ELSABÉ RICHARD 14:20 Mon, 03 May 2021

Landbounuus-podcast: Voëlgriep by tweede boerdery in Gauteng bevestig | News Article

'n Tweede hoenderboerdery aan die Oos-Rand van Johannesburg in Gauteng is onder kwarantyn geplaas ná 'n uitbraak van die uiters dodelike voëlgriep.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê dié jongste uitbraak mag dalk nie die huidige handelsbeperkings wesenlik beïnvloed nie. Dit volg nadat Botswana en Mosambiek verlede maand alle pluimveevleis, eiers en vere uit Suid-Afrika verbied het, terwyl Lesotho die invoer van eiers uit Gauteng verbied het toe voëlgiep in twee provinsies bevestig is. Hierdie uiters dodelike voëlgriep  word deur wilde voëls oorgedra veral gedurende hierdie tyd van die jaar wanneer hul natuurlike migrasie noordwaarts voorkom. Alle persone word versoek om op die uitkyk te wees vir dooie voëls en dit by hul naaste staatsveearts aan te meld. Verbruikers word verseker dat eiers en braaikuikenprodukte veilig is om te eet, mits normale kookprotokolle gevolg word.

Die polisie in die Vrystaat is op soek na verdagtes wat in 'n plaasaanval naby Tierpoort betrokke was. Volgens polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, is drie bejaarde vroue, tussen 71 en 79 jaar oud, verlede week op hul plaas aangeval deur drie mans wat klapmusse en swart klere aangehad het. Hy sê die verdagtes het na bewering messe en ander wapens wat hulle in die huis gevind het, geneem en die slagoffers gedreig. Die verdagtes het toe motorsleutels, geld, vuurwapens en selfone geëis en glo die slagoffers met 'n knopkierie begin aanrand en met messe gesteek. Makhele voeg verder by dat die slagoffers van hul selfone beroof is, dat die verdagtes 'n onbekende bedrag kontant gesteel het, en met 'n Ford Ranger-bakkie van die toneel gevlug het. Twee slagoffers is na verskillende hospitale in Bloemfontein verwys vir behandeling. Intussen doen Makhele 'n beroep op enigiemand met inligting om Crime Stop te beskakel l of inligting via MySAPS App te stuur.

EN

Die LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini, het tydens 'n vergadering rakende die onwettige toestroming van Lesotho-burgers in die Klaarwater-omgewing in die Zastron-distrik, die versekering gegee dat verskeie aspekte daadwerklike aandag sal geniet. Dit volg nadat verskeie rolspelers vanuit Lesotho en Suid-Afrika verlede week byeengekom het om die onwettige toestroming van Lesotho-burgers en onwettige beweiding deur vee in die Klaarwater-omgewing te bespreek. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê Mashinini het onder meer die versekering gegee het dat hekke in die Klaarwater-omgewing toegespan gaan word. Hy sê daar is ook besluit dat die grenspad aan die Suid-Afrikaanse kant met behulp van die provinsiale geel vloot geskraap gaan word ten einde die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die polisie te bemagtig om patrollerings te doen en ook om hul reaksietyd te verhoog. Wilken meen dat soortgelyke ingrypings by alle grensdorpe se landbougemeenskappe moet plaasvind.  
 



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.