On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Nog 'n voëlgriep uitbraak bevestig

───   ELSABÉ RICHARD 14:07 Thu, 06 May 2021

Landbounuus-podcast: Nog 'n voëlgriep uitbraak bevestig  | News Article
Photo: Gallo

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het nog 'n uitbraak van voëlgriep in 'n kommersiële hoenderboerdery in Randfontein in Gauteng aangekondig.

Die departement sê in 'n verklaring voor hierdie uitbraak is vier uitbrake in ander kommersiële hoendereiendomme opgespoor. Altesaam vyf uitbrake - vier in Gauteng en een in Noordwes - is tot dusver aangemeld. Alle betrokke plase is in kwarantyn geplaas, en beheermaatreëls word geïmplementeer. Die departement sê verbruikers het geen rede om bekommerd te wees nie. Die departement versoek dat produsente op die uitkyk moet wees vir skielike vrektes op hulle hoenderplase en dit by hulle naaste staatsveearts te rapporteer.

'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Volgens Derksen het speenkalwers op die plaaslike veilings, onder 200kg, teen R43,65 per kg verkoop. Speenkalwers tussen 200kg en 250kg het teen R39,43 en speenkalwers oor 250kg het teen R37,18 per kg verkoop.

Brandstofpryse het vanjaar vir die eerste keer afgeneem weens 'n 2%-daling in die internasionale Brent ru-oliepryse en die rand wat in April met 3% verstewig het. Petrolpryse het op Woensdag 5 Mei met 9 sent verlaag, terwyl die twee grade diesel met onderskeidelik 34 en 30 sent gedaal het. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, verwelkom dié afname, en sê hoewel die afname klein is, sal dit 'n verskil maak aangesien boere besig is om somergraan en oliesaad te oes en aan te gaan met die aanplant van wintergewasse.

EN

Jannie de Villiers, wat 'n dekade lank as uitvoerende hoof van Graan SA gedien het, het aangekondig dat hy op 31 Augustus vanjaar die kommoditeitsorganisasie gaan verlaat. Farmer's Weekly berig dat hy op 1 Maart 2011 by Graan SA aangesluit het, ná 'n loopbaan van 24 jaar by die South African Chamber of Milling. De Villiers is baie optimisties oor die toekoms. Hy sê dat Suid-Afrika in die volgende tien jaar 'n  uitvoerder van formaat van mielies en sojabone kan word. De Villiers verwag ook dat die navorsingsplatform van wêreldgehalte wat deur Graan SA geïnisieer, gefasiliteer en ontwikkel is, nog verder sal ontwikkel om die voortgesette en winsgewende graanproduksie in die land te vergemaklik.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.