On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Reën in dele van Sentraal Karoo bring hoop

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 18 May 2021

Reën in dele van Sentraal Karoo bring hoop | News Article

Dele van die Sentrale Karoo in die Wes-Kaap het reën gekry, wat daartoe lei dat die bossies in die droë veld weer groei.

Christa Mans, ‘n boer uit dié omgewing, sê hulle het weer oor die naweek sowat 6mm reën gekry en is hoopvol dat nóg reën sal volg. 

Sien onderstaande PODCAST

Mans sê reën kom kol-kol voor en dat boere verskriklik baie dankbaar is. Sy voeg egter by noudat dit begin groen raak, sien hulle dat baie van die bossies swart bly staan en dit lyk nie of hulle gaan groei nie.

Sy sê boere hoop op gedurige opvolgreënval sodat hulle nie meer afhanklik hoef te wees van voerskenkings vir hulle diere nie.

Sentraal Karoo sluit in die Laingsburg-, Prins Albert-, Merweville-, Leeu Gamka- en Beaufort-Wes-distrikte in die Wes-Kaap.

Mans, wat saam met haar man in die Laingsburg-distrik boer, sê sy en haar man koördineer die voeraankope vir die hele Sentraal Karoo. Dit, nadat sy ‘n groep genaamd Boere met Hoop gestig het wat uit meer as 200 boere bestaan waar voer bestel word en skenkings tussen dié boere uitgedeel word.  Dié boere is geleë in droogtegeteisterde gebiede in die bogenoemde streke. Mans adverteer voer wat sy teen billike pryse kry op hierdie groep, en stel boere in kennis van enige skenkings wat sy ontvang het.

OFM-nuus het vroeër berig Mans sê boere hoop elke dag vir reën. Sy sê ten spyte van die uitdagings, bly boere positief en voer hulle steeds hulle diere met die hoop dat hulle in die afsienbare toekoms weer ‘n bestaan sal kan maak uit hulle plase.

Indien u graag skenkings wil doen aan Boere met Hoop, skakel Mans op 082 745 3487.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.