On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agri Hour

Kritiese maatreëls vir lewendehawe-agente skop amptelik op 1 Julie in werking

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 10 Jun 2021

Kritiese maatreëls vir lewendehawe-agente skop amptelik op 1 Julie in werking | News Article

Kritiese biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente, wat in November 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, skop amptelik op 1 Julie vanjaar in werking.

Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel APAC, sê hierdie maatreëls het ten doel om onder meer te verseker dat albei die wild- en lewendehawebedrywe aan die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) se kode voldoen om dieresiektes te verhoed. 

Sien onderstaande PODCAST

Verder verbeter hierdie maatreëls handel en verminder dit die risiko van verspreiding van beheerde, aanmeldbare en ander dieresiektes.

Knowles sê biosekuriteitsmaatreëls wat betref veilings is van kardinale belang, aangesien siektes soos bek-en-klouseer – wat onlangs in Mtubatuba in KwaZulu-Natal aangemeld is – ‘n groot invloed op die lewendehawemark kan hê.

Lewendehawe-agente het ‘n ses maande grasie-periode gehad om hulself met die biosekuriteitsmaatreëls, wat op 13 November 2020 deur Apac gepubliseer is, te vergewis. Agente is aangeraai om hierdie periode te gebruik om die nodige wysigings – soos onder meer infrastruktuurveranderings – aan te bring.

 

Lewendehawe-agente moet aan die volgende voldoen:

Verpligte registrasie by APAC – dit sluit lewendehawe-agente in wat aanlyn en virtuele veilings aanbied.

Lewendehawe-agente moet aanvaarding en verantwoordelikheid van dieresiektewetgewing erken en afteken.

Daar moet twee keer per jaar ‘n onafhanklike eksterne oudit van die veilingsgeriewe en alle biosekuriteit-prosedures onderneem word. Die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy, SAMIC, sal die rol vervul.

Elke veilingsperseel moet ‘n biosekuriteit-praktisyn aanstel wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad (SAVC) geregistreer moet wees. Dié biosekuriteit-praktisyn is verantwoordelik vir die biosekuriteitsplan en moet ook toesien dat daar aan alle minimum-biosekuriteitsmaatreëls voldoen word vir alle diere van verskillende oorsprong wat vir opveiling bymekaar kom.

OFM-nuus het vroeër berig Knowles het die belangrikheid van diere-identifikasie by veilings benadruk, en sê dat veediefstal ‘n groot probleem in Suid-Afrika is en produsente beloop ‘n verlies van sowat R3 miljard per jaar. “So, wat hierdie reëls vir ons dan identifiseer is dat ‘n dier moet geïdentifiseer (gebrandmerk) word as hy by die veiling opdaag. Daar is sogenaamde ‘nat verf spekulante’ wat in die waardeketting funksioneer. Diere mag in terme van hierdie reëls slegs ná 28 dae, as dit ‘n spekulasie-dier is, dan weer verkoop word deur ‘n veiling.

“Dan mag jy ook natuurlik nie ‘n dier by ‘n veiling brandmerk nie. [As diere by veilings gebrandmerk word] beteken dit dat daar nie identifikasie in die waardeketting is nie, ons weet nie waar die dier vandaan kom nie en ons kan nie die punt van oorsprong bepaal nie.

“Een van die heel belangrikste aspekte van ons biosekuriteitreëls is juis naspoorbaarheid en dan ‘n ouditbare waardeketting,” sê Knowles.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.