On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Weerstand teen onkruiddoders hou nadele vir gewasboere in

───   ELSABÉ RICHARD 14:17 Tue, 27 Jul 2021

Landbounuus-podcast: Weerstand teen onkruiddoders hou nadele vir gewasboere in | News Article

Weerstand teen onkruiddoders hou verskeie nadele vir gewasboere en die omgewing in.

Elriza Theron, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Croplife SA, sê boere se geldsake word ook op die lang termyn hierdeur geraak. Theron vergelyk weerstand teen onkruiddoders met die konsep van wanneer mense weerstand teen antibiotika ontwikkel. Sy maan daarom gewasprodusente om voorskrifte te lees en daarby te hou en die etikette van gewasbeskermingsprodukte te volg aangesien dit belangrike inligting soos veiligheidsmaatreëls bevat. Theron voeg verder by dat weerstand ‘n natuurlike proses is wat wel bestuur kan word. Sy sê wanneer weerstand plaasvind, is daar gewoonlik ‘n klein aantal onkruid in ‘n populasie wat natuurlik bestand is teen sekere onkruiddoders.

Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep, sê dis belangrik dat Suid-Afrika behoorlike naspeurbaarheidstrukture en bioveiligheidsmaatreëls moet hê. Hy sê strukture het vordering gemaak, maar dat daar nog baie werk voorlê in terme van biosekuriteit en naspeurbaarheid. Met dit gesê, sê Van Reenen het veral naspeurbaarheid in Suid-Afrika nog aandag nodig. Hy verduidelik dat wanneer daar na biosekuriteit gekyk word, is dit ‘n waardevolle element vir die rooivleisbedryf vir die bekamping van dieresiektes soos bek-en-klouseer. Bek-en-klouseer is meer as ‘n maand gelede in KwaZulu-Natal gerapporteer en dit het produsente en die bedryf opnuut herinner aan die belangrikheid van die implementering van biosekuriteitsmaatreëls en om ‘n naspeurbaarheidstelsel in plek te hê.

EN

'n Bekende Suid-Afrikaanse boer en GWK-ondervoorsitter, Frank Lawrence, wat verlede week Maandag erg beseer is toe hy op sy plaas naby Jacobsdal besig was om plaasimplemente te kalibreer, is die afgelope naweek in die hospitaal oorlede. GWK sê in 'n verklaring Lawrence het 'n geweldige positiewe impak op baie mense se lewens gehad. Die organisasie sê verder Lawrence was vanaf 2012 voorsitter van die GWK-raad en dien sedert 2020 as ondervoorsitter. Na aanleiding van Covid-19-protokolle het Lawrence se gesin besluit om nie 'n begrafnisbyeenkoms te reël nie, maar sal familie, vriende en sakevennote later uitgenooi word om bymekaar te kom om van hom afskeid te neem.




OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.