On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Dankbare Vrystaatse boere bedank SA vir hulp ná veldbrande

───   09:26 Mon, 02 Aug 2021

 Dankbare Vrystaatse boere bedank SA vir hulp ná veldbrande | News Article

Boere wat skade gely het weens die onlangse veldbrande tussen 12 en 13 Julie 2021, wil hul opregte dank uitspreek vir die eindelose bystand en hulp tydens hierdie moeilike tyd.

OFM-nuus se Lee Simmons het gesels met Christelle van der Merwe, een van die boere wat op die Mooivlakte-plaas in die Fauresmith-distrik vasgevang was…

“Op Maandag 12 Julie, terwyl die hele Suid-Afrika asem opgehou het en verdwaas gelaat is deur die verwoesting wat in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind het, het die boere en plaaswerkers van groot dele van die Suid-Wes Vrystaat verbete gepoog om een van die mees verwoestende veldbrande in opgetekende geskiedenis onder beheer te bring,” sê Van der Merwe.

Sy voeg by dat groot dele van Fauresmith en Jagersfontein deur brande verwoes is nadat 'n kragpaal deur sterk wind omgewaai is.

Die tweede en grootste brand het langs die pad tussen Petrusburg en Koffiefontein begin. Winde van tot 70km/h het veroorsaak dat die brand baie vining versprei het en boere en hul werkers het van oral gekom om te help om die brand te blus. Die boere van Fauresmith en Jagersfontein is deur boere en hul werkers van Koffiefontein, Petrusburg, De Brug, Trompsburg, Edenburg en die Mangaung Sambreelbrandbeskermingsvereniging (MUFPA) bygestaan.”

“Boere is stelselmatig besig om die stukke weer op te tel en skadeberaming te doen. Daar is egter wel een sekerheid by almal wat deur hierdie vreeslike brande geraak is en dit is dat ons gemeenskappe vreeslik dankbaar is vir elke liewe persoon wat kom help het.

Bakkies, met brandspuite van oral oor, het gehelp om huise en skure te beveilig en om te keer dat nog meer skade aangerig word.

Daar was nie tyd om te groet en kennis te maak nie, want die stryd teen die vlamme was oorweldigend. Ná die tyd besef jy egter dat jy nie eens weet wie jou gehelp het nie,” sê sy verder.

Sy sluit af deur te sê “ons boere wat deur hierdie veldbrande geraak is, wil almal wat kom help het uit die diepte van ons harte bedank vir julle onselfsugtige hulp en opoffering om ons te kom help.

"Ons wil ook almal wat reeds voer geskenk het, bedank, asook diegene wat weiveld beskikbaar gestel het.

"Skenkings van kospakkies is reeds onder plaaswerkers versprei wat gehelp het tydens die brande. Elke skenking en bydra word vreeslik waardeer."

As daar enige ander persone is wat graag 'n bydrae wil maak, kan skenkings aan die Fauresmith Boerevereniging se Brandfonds gemaak word. Navrae kan gestuur word aan Heinrich Wessels by hwessels6@gmail.com of besoek Vrystaat Landbou se webblad en klik op “Skenk/Donate.”

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.