On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Implementering van slim onkruidbeheerprogram kan boere se besteding aan kunsmis verminder

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 21 Oct 2021

Implementering van slim onkruidbeheerprogram kan boere se besteding aan kunsmis verminder | News Article
Foto: farmersportal.co.za

Ons staan aan die begin van planttyd vir die nuwe seisoen met kunsmispryse wat boere na hul asems laat snak.

Sommige produkte se pryse is amper 70% hoër as verlede jaar. Siende dat gewasse voedingstowwe nodig het om goeie opbrengste te lewer, het boere nie regtig ‘n keuse nie. 

Ingrid Boshoff, een van Syngenta se tegniese deskundiges, sê egter dat slim onkruidbeheer die impak van hoë kunsmispryse kan versag. 

Sien onderstaande PODCAST

Boshoff sê verskeie globale faktore dra tans by tot die hoë kunsmispryse. Sy sê die kapasiteit vir die produksie van kunsmis het as ‘n geheel afgeneem en gelei na tekorte in die kunsmisbedryf.

Daarmee saam beklemtoon sy die belangrikheid van onkruidbeheer op veral mielies. “Kunsmistoediening en onkruidbeheer is twee van die belangrikste bestuursfaktore wat mielie-opbrengste beïnvloed.

“Die optimale balans tussen die twee faktore maksimaliseer nie net opbrengste nie, maar maak ook die meeste van elke Rand wat op insette gespandeer word.

“Onkruidbeheer is so ‘n belangrike faktor wat mielie-opbrengs bepaal, dat selfs ‘n 1%-toename in die onkruidpopulasie mielie-opbrengste met 68kg per hektaar kan verminder.”

Boshoff verduidelik dat daar vier groeistadiums in die lewe van ‘n mielieplant is en dat onkruidkompetisie gedurende hierdie stadiums baie skade kan aanrig. Daarom is ‘n volledige onkruidbeheerprogram  belangrik om die mielieplant te beskerm tydens al die kritieke stadiums van groei.

Sy sê van die belangrikste stadiums is die eerste twee tot drie weke tot en met die drie-blaar stadium. “Mielies het ‘n omskakelingspunt rondom die drie-blaar stadium wat beteken dat onkruidbeheer wat eers ná dit plaasvind, nie die opbrengsverliese wat reeds plaasgevind het, kan inhaal nie,” verduidelik Boshoff.

Sy voeg verder by dat die volgende belangrike stadium die vyf- tot ses-blaar stadium is. Tydens hierdie tydperk word die rye per kop vasgestel. Die derde groeistadium is die tien-blaar stadium en dit is wanneer die aantal pitte per ry bepaal word.

“Die laaste sensitiewe stadium, soos meeste mense sal weet, is die bestuiwing en die reproduktiewe stadiums – wanneer die gewig van die pitte bepaal word.


Goue reëls vir onkruidbeheer hierdie seisoen

- Besluit watter strategie op 'n spesifieke gebied gevolg moet word, met die geskiedenis in gedagte.

- Verwys na die produk-etiket om seker te maak dat die korrekte dosis toegedien word.

- Dien onkruiddoders toe met residuele werking voor en ná die opkom van gewasse om onkruidkompetisie tydens die kritieke groeistadiums te beperk.

- Maak seker dat die toedieningstoerusting in 'n goeie werkende toestand is.

- Kalibreer spuittoerusting om die korrekte toedieningshoeveelhede en egalige verspreiding te verseker.

- Hou die beperkings vir opvolggewasse in gedagte by die keuse van onkruiddoders en dosisse.

- Gebruik slegs produkte van gerespekteerde verskaffers.

- Moenie onkruiddoderprodukte slegs kies omdat dit goedkoper is nie. Die eienskappe van die aktiewe bestanddeel alleen bepaal nie die doeltreffendheid van 'n produk nie. Produkformulering, wat die byvoegmiddels insluit wat by die aktiewe bestanddeel gevoeg is, beïnvloed hoe die aktiewe bestanddeel deur onkruid opgeneem word en dra ook by tot die veiligheid van gewasse.

Vir verdure navrae of meer inligting oor hierdie onderwerp, stuur ‘n epos na ingrid.boshoff@syngenta.com.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.