On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Opvolgreën steeds nodig in droogtegeteisterde gebiede in NK

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 25 Nov 2021

Opvolgreën steeds nodig in droogtegeteisterde gebiede in NK | News Article
Foto: modernfarmer.com

Daar is steeds rampdroogtegebiede van die Noord-Kaap wat dringend opvolgreën nodig het sodat die veld dáár kan herstel.

Hierdie droë gebiede het gedurende die laaste week van Oktober wydverspreide reënval ervaar. 

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hulle is hoopvol dat opvolgreën gaan val aangesien die Suid Afrikaanse Weerdiens weer reën vir die komende naweek voorspel.   

Sien onderstaande PODCAST

Die oostelike dele van die Noord-Kaap het vandeesweek reën gekry, maar die westelike en noordelike dele van die provinsie was nie so gelukkig nie.

Hael is ook gedurende vandeesweek in Calvinia en in die rigting van Brandvlei en Williston aangemeld, “maar wat ongelooflik kommerwekkend is, is die hael wat in besproeiingsdele van Louisvale by Upington sowel as teen die Oranjerivier in die rigting van Orania voorgekom het, wat groot skade aan die wingerde sowel as die koring wat naby oes is, aangerig het.”


LEES: Kanse goed vir ‘n nat Kersfees 


Veldbrande

Verskeie veldbrande is gedurende vanjaar se brandseisoen regoor sentraal Suid-Afrika aangemeld, en Jansen sê die mees onlangse veldbrande het vanaf Botswana na die Kalahari versprei, wat plase in daardie omgewing verwoes het.

Agri Noord-Kaap waarsku die publiek om steeds versigtig te wees om nie oop vure te maak gedurende weersomstandighede wat gunstig is vir die ontstaan en verspreiding van veldbrande nie.

Jansen sê hoewel wydverspreide reën in die provinsie voorgekom het, is daar steeds dele van die provinsie wat baie droë gras het.


LEES: Skade weens veldbrande in NW beloop miljarde Rand 


Sprinkaanswerms

Sprinkane is in drie provinsies aangemeld, naamlik die Oos-, Wes- en Noord-Kaap.

In die Noord-Kaap word tot 400 swerms per dag bespuit.

Jansen sê spanne is hard besig om swerms in dele van die provinsie te spuit, in 'n poging om te verhoed dat hulle na buurprovinsies trek.

Weens reënval wat in sommige droë gebiede van die land voorgekom het, het swerms uitgebroei en en as dit nie gespuit word terwyl hulle nog nie kan vlieg nie, kan dit later 'n bedreiging vir boere inhou.

Intussen doen landbou-organisasies in sentraal Suid-Afrika 'n beroep op die publiek om hulle of die provinsiale departement van landbou te kontak sodra hulle sprinkaanswerms waarneem.

Boere in die Vrystaat kan die sprinkaanbeheerspan kontak om hulle in die betrokke gebiede te help:

Hennie Groblelaar - 0734455430 - Luckhoff en nabygeleë omgewing

Joggie du Plessis - 0829265660 – Vanderkloof-omgewing

George de Vos - 0724954133 - Phillipolis en omgewing

Ronnie Cawood - 0824687650 – Ghaap-omgewing, Boshof en nabygeleë omgewings

Verder kan die publiek ook hierdie swerms aanmeld deur die volgende nommers in die Noord-Kaap te skakel: De Aar Depot - 053 631 3621 of Upington Depot - 082 457 2906.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.