On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agri Hour

Familieboere 'moet nie nasionale inperkingstydperk misbruik'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:18 Fri, 27 Mar 2020

Familieboere 'moet nie nasionale inperkingstydperk misbruik' | News Article

Dit is nou die tyd vir betrokkenes in die landboubedryf om kalm te bly en voort te gaan met produksie.


Die nasionale inperking van 21 dae weens die Covid-19, wat om middernag in werking getree het, moet nie deur die bedryf, wat deel vorm van basiese dienste wat in dié tydperk voortgaan, misbruik word nie. Dit is volgens die organisasie vir familieboere, Saai, se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, wat meen familieboere moet in die tydperk slegs die nodige werknemers inspan, veiligheidsmaatreëls toepas en ook oor die nodige dokumentasie beskik wanneer hulle reis, soos onder meer tussen hul plase in 'n gebied. Dit kom nadat landbou- en voedselvoorsieningsverwante dienste, soos 'n boerdery, veeartsenykundige en plantegesondheid-diensverskaffers, plaagbeheerdienste en chemiese en kunsmisverskaffers deur die regering geklassifeer word as noodsaaklike dienste om die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners te ondersteun. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Rossouw gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Volgens hom kan daar 'n mate van frustrasie ontstaan met onder meer padversperrings in dié inperkingstydperk, en gegewe die uitdagings om met die betrokke owerhede op alle vlakke te kommunikeer, het Saai dit goedgedink om 'n gratis digitale platform beskikbaar te stel. Hy sê dit is nodig dat daar na die minimum bewyslas gelet word wanneer betrokkenes in die bedryf en veral boere en hul plaaswerkers reis, maar die tyd is nou verstreke om dit te bekom. 

Daarom laat Saai se webgebaseerde platform 'n boer nou toe om noodsaaklike dokumente op dié webtuiste te laai ten einde te bewys dat daar goeie rede vir 'n rit is. Hy sê sodra inligting op dié platform gelaai is, sal dié stelsel 'n e-pos aan deelnemers met al hul nodige inligting stuur. 'n Toegangsbeheerkaart word dan beskikbaar gestel en bevat intekenaars se nodige inligting wat ook via WhatsApp gestuur word.

Volgens Rossouw is dit ook nodig vir 'n boer of 'n werknemer om onder meer 'n identiteitsdokument te toon, maar dié ritte moet egter nie onnodig wees nie en sover moontlik beperk word. 'n Werknemer moet ook details soos 'n kontaknommer en adres van sy werkgewer kan verskaf.  

Rossouw sê Saai vra ook dat daar op sy nuwe webgebasseerde platvorm aangedui word wat die rede vir 'n rit is, en onder meer 'n kragrekening moet verskaf word, wat as bewys kan dien oor eienaarskap van 'n plaas, indien 'n boer meer as een plaas besit en daarheen moet ry om voort te gaan met sy boerderybedrywighede. 

Inligting moet ook verskaf word deur 'n werkgewer oor 'n werknemer wat in sy diens is.

Toegang tot dié platform kan verkry word by: https://bit.ly/COVID_Travel_Docs)  

Dit was Francois Rossouw die uitvoerende hoof van die  organisasie vir familieboere, Saai, slegs op Before Dawn.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.