On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:02 Thu, 04 Jun 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


Hy verwys na nuwe lesse wat geleer kan word uit die Covid-19-pandemie en meen die omvang van regeringshulp in die vorm van verskeie toelaes en die mate wat dit uitgebrei moes word om die vangnet ten opsigte van sosiaal-maatskaplike verligting so wyd moontlik te maak, is verstommend.  'n Mens sou kon verwag dat meer mense meer paraat sou wees om dié krisis te hanteer, veral in terme van huishoudelike voedselsekerheid. 

Wat ook ontbloot is, is die gebrek aan betroubare inligting oor die werklike stand van sake en hoe naby mense aan hongersnood verkeer. Dit selfs te midde van relatiewe voldoende beskikbare kos in Suid-Afrika, veral in vergelyking met die beskikbaarheid daarvan in ander lande.  Laubscher meen dit wil voorkom of té veel mense eenvoudig hande in die lug gegooi het met ‘n kreet dat die regering moet help. Hy vra die vraag wat het van selfhelp geword? Dié ideologie dui op politieke verknegtheid, want kom daar kos, geld die ou spreekwoord van “wie se brood mens eet, dié se woord mens spreek”.

Die Verenigde Nasies se voedsel- en landbou-organisasie (FAO) wys tereg hoe die beginsel van oorlewing ten alle koste toegepas is in lande waar regerings eenvoudig nie hulp kan verleen nie. Sogenaamde vertikale en mikro-boerderye in talle lande, wat armer as dié aan die suidpunt van Afrika is, lewer bewys van hoe daardie boere werklik planne maak. Koolsaad, gespasieer tussen die stene van plaveisel, selfgemaakte kweekhuise van ‘n vierkante meter en verskillende kort groeigroentes in plantbakke van ou buitebande op die dakke van hoë geboue, is maar enkele voorbeelde hiervan. 

In een spesifieke geval kon ‘n pa van Aka Khel, ‘n dorpie in die mees voedsel-onsekere gebied van Pakistan, ‘n eenvoudige kweekhuis oprig en aan die gang kry. Hy produseer tamaties, okra en spanspek in 'n klein, beperkte ruimte. Die belangrike les is dat hy met behulp van baie eenvoudige tegnologie voedselsekerheid vir sy huishouding kon skep en ook sy gesin se dieet kon verbeter.

Hy sê die FAO is aktief betrokke by sogenaamde vertikale boerdery. Dit is ‘n gewilde manier om ruimtebeperkings in veral Europese lande die hoof te bied, want produksiestelsels stapel op mekaar.


OFM-nuus




Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.