On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Waterregtehofbeslissing: Verlof om appèl gevra

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Fri, 10 Jul 2020

 Waterregtehofbeslissing: Verlof om appèl gevra | News Article

'n Aansoek om verlof tot appèl rakende die oordrag van waterverbruiksregte word vandag in die Appèlhof in Bloemfontein ingedien.


Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Vereniging van Waterverbruikersverenigings, die Doornkraal Besigheidstrust en die De Kalk Besigheidstrust bloedneus in dié verband gekry het. Die Hooggeregshof in Pretoria het teen die verkoop of verhandeling van watergebruiksregte beslis. Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, sê dié organisasie het die Doornkraal Besigheidstrust in die verhoor geldelik ondersteun en het saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Waterverbruikersverenigings, 'n belang in die uitkoms daarvan. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Rabie meen die Hooggeregshof in Pretoria het sy uitspraak op die doelstellings van die Nasionale Waterwet, 36 van 1998 gegrond, en nie die vraag wat aan hom gestel is rakende uitklaring oor die  korrekte interpretering van Artikel 25 van dié wet, beantwoord nie.  Agri SA se uitgangspunt is waterverbruiksregte gaan oor die doeltreffende verbruik van water en dit is onsinnig dat dié regte na 'n ander stuk grond oorgedra kan word, maar daar mag nie geld daarvoor gevra word nie.  

Hy sê die kwessie van eienaarskap is vir dié organisasie belangrik, want eiendom is nie slegs tot grond beperk nie. Voorbeelde daarvan is dranklisensies en mynregte. Volgens hom lê 'n aftakeling van eiendomsregte en beskikkingsbevoegdhede oor eiendom Agri SA na aan die hart. Die belangrikse kwessie in verband met die oordrag van waterregte gaan oor doeltreffendheid en die gebruiksreg het 'n kommersiële waarde. Dit is 'n reg en hier is 'n groot beginsel ter sake. Daar word aanvaar dat water "in eie hande" nie in Suid-Afrika besit kan word nie en aan alle mense in die land behoort. Rabie voer aan daar is tog die reg om dit te gebruik, want dit is wel 'n eiendom.  Rabie sê juis hieroor is daar groot kommer oor die Hooggeregshofuitspraak, veral as dit in die konteks gesien word in die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind rondom die onteiening van eiendom sonder vergoeding. 

Daar is rede tot kommer in gevalle soos dié waar die Hooggeregshof, en nie eers die regering nie, besluit geld mag  nie gevra word vir die uitoefening van 'n watergebruiksreg nie. Rabie sê aan die einde van die dag word daar verwag dat dié gebruiksreg, wat baie werd is en waarin baie geld belê is, sonder vergoeding "weggegee" moet word. 

Dit laat vraagtekens oor grondwetlike beginsels rondom eiendom of eienaarskap van waterverbruiksregte en indien die hooggeregshof se interpretering gevolg word, laat dit doeltreffende watertransformasie-projekte in die duister. Die vraag ontstaan dan of die oordrag van watergebruiksregte vir transformasie-doeleindes mag voortgaan, sê hy.  

Daarom is daar groot hoop dat die Appèlhof in Bloemfontein meer sekerheid as die Hooggeregshof in dié verband sal verskaf.  


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.