Central SA
Tussentydse ombudsman wil Mangaung-inwoners dien, dienslewering verbeter─── REFILWE BEKANE 11:00 Fri, 14 Nov 2025
Mangaung se tussentydse ombudsman sê sy wil die mense van die metro dien. “Ons sal ons werk doen sonder vrees of bevoordeling,” sê adv. Charlie Naidoo.
Naidoo se aanstelling is Donderdag (13/11) op ’n mediakonferensie in Bloemfontein aangekondig. Dié nuwe kantoor moet help om dienslewering te verbeter en menseregte te bevorder.
Die kantoor se hoofopdrag is om klagtes van wanadministrasie te ondersoek en sodoende munisipale aanspreeklikheid te verbeter, geskille te besleg en openbare vertroue in die metro se stelsels te versterk.
Munisipale amptenare wat die bekendstelling bygewoon het, beklemtoon die kantoor sal die munisipaliteit in staat stel om meer inwoners te bereik deur uitgebreide veldtogte en verwante programme.
Die aanstelling van die ombudsman is ook daarop gemik om te verseker inwoners word met die nodige waardigheid en respek behandel wanneer hulle met die metro in verbinding tree.
Naidoo verwoord die kantoor se onwrikbare verbintenis tot sy opdrag. “Vir my is dit belangrik dat ons optree as ’n instelling wat probeer om dienslewering te verseker voordat inwoners die hof nader of voordat hulle hul tot die openbare beskermer wend.
Talle hooggeplaaste amptenare het die geleentheid bygewoon, onder wie hoof van staf Zolile Mangcotywa, speaker Lawrence Mathae en stadsbestuurder Sello More.
More het die metro se verbintenis tot die inisiatief bevestig en gesê die besluit is lankal geneem om hierdie formele meganisme te skep om wat verkeerd is, reg te stel.

Stadsbestuurder Sello More was een van die sprekers by die aankondiging van die ombudskantoor. Foto: Mangaung-metro
Naidoo het uitgewei oor die kantoor se strategiese belang om voorkomend op te tree binne die munisipale bestuurstruktuur. Haar span bestaan uit ’n administrateur, ’n sekretaresse, en ’n persoon wat vir voldoening verantwoordelik is, asook ander belanghebbendes. Hulle sal in die beste belang van die burgers optree, het sy belowe.
Die kantoor beplan om intern met departementshoofde en ekstern met sleutelbelanghebbendes te kommunikeer om die kantoor se funksie en mandaat aan die gemeenskap te verduidelik.
Hoewel hulle nog nie ’n permanente, aangewese kantoor het nie, kan die afdeling voorlopig bereik word in kamer 314 op die derde verdieping van die Bram Fischer-gebou.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

