On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Local News

Parys-moordsaak hervat Maandag

───   DANE BEISHEIM 15:16 Fri, 19 May 2017

Parys-moordsaak hervat Maandag | News Article

Parys - Die veelbesproke Parys-vigilantemoordsaak sal Maandag tydens ’n sitting van die Hooggeregshof in Parys se Landdroshof hervat.


Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie, Anton Loggenberg en sy seun Cor, sowel as Miela Janse van Vuuren en Henk Prinsloo, het vanoggend vlugtig in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van moord op beweerde plaasaanvallers Samuel Tjixa en Simon Jubeba op 6 Januarie verlede jaar. OFM-nuus se Dane Beisheim berig dat Fanie Oosthuizen Maandag onder kruisverhoor sal getuig.

 Oosthuizen is op die staat se lys van artikel 204-getuies. Hy is aanvanklik saam met die ander verdagtes aangekla en het glo ’n aandeel in die aanrandings gehad. Aanklagte teen Johan Cillier sr. en sy seun Johan jr. is laat vaar omdat daar geen bewyse teen hulle was nie. Die saak hervat Maandag om 11h30.

Regter Corné van Zyl het vroeër die week saam met die onderskeie regspanne en die beskuldigdes ‘n besoek aan die vermeende moordtoneel afgelê om beter begrip van die terrein, paaie, en afstande tussen die plase te kry. 

Die slagoffers is glo doodgeslaan ná ’n beweerde mislukte plaasaanval op Boeta se pa, Loedie sr. Die oorledenes se familie het dit egter ontken en sê hulle is tydens 'n loongeskil deur die boere doodgeslaan. 

Van der Westhuizen sr, wat in die Weiveldgebied net buite Parys woon, voer op sy beurt weer aan dat hy ’n noodknoppie gedruk het om hulp te ontbied nadat hy deur minstens drie mans op sy plaas aangeval is. 

Die ses verdagtes staar twee klagte van moord in die gesig, met 'n bykomende klag van regsverydeling teen die Van der Westhuizens wat volgens getuies al die betrokkenes se skoene laat verbrand het. 

Dr. Buang Lairi, die patoloog wat die lykskouings op die oorledenes uitgevoer het, het vandeesweek onder kruisverhoor getuig. Lairi het onder meer getuig dat die mans albei weens breinbeserings dood is.

Die saak is vroeër uitgestel sodat die hof ’n dringende aansoek deur die SABC kon aanhoor om kameras tydens verrigtinge in die hof toe te laat. Regter Corné van Zyl het egter besluit om voort te gaan met die kriminele saak en sal haar beslissing op die uitkoms van ’n soortgelyke aansoek in die Henri van Breda-moordsaak baseer.

Die saak is tot 26 Mei op die hofrol geplaas.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.