On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Local News

AfriForum - ‘Noordwes-premier moet ingryp ná ‘n reeks plaasaanvalle’

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:51 Tue, 06 Jun 2017

AfriForum - ‘Noordwes-premier moet ingryp ná ‘n reeks plaasaanvalle’  | News Article

Noordwes se premier, Supra Mahumapelo, moet drasties ingryp en sterk standpunt inneem teen 'n reeks aanvalle op plase wat die afgelope vier weke in dié provinsie plaasgevind het.


AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof, Ernst Roets, sê Mahumapelo moet nou daadwerklik optree en ook uitgesproke wees soos die geval was toe geweld onlangs ná die dood van die 16-jarige Matlhomola Mosweu op Coligny uitgebreek het. Roets sê dié burgerregte-organisasie is bewus van sewe aanvalle die afgelope tyd in Noordwes. Hy sê dit was wrede aanvalle waarin 'n boer, BC Greyling, onder meer op sy plaas in die Sannieshof-distrik doodgeskiet is. 'n Vrou is ook in een van die aanvalle na bewering verkrag. Volgens Roets het Mahumapelo vinnig ingegryp op Coligny waar hy politieke toesprake gelewer het waarin hy "Afrikaners blameer het vir wat daar gebeur het."

Mahumapelo se integriteit is op die spel en almal verwag nou van hom om ook in te gryp, want dit is 'n "krisis wat die hele provinsie raak", sê hy.

“Ons ervaar in baie gevalle dat, wanneer dit kom by die hantering van plaasaanvalle of die proaktiewe optrede teen plaasmoorde, die element van 'n politieke wil ontbreek. Daarom verwag ons ten minste net sigbaarheid vanaf Mahumapelo." Daar is talle ander "tasbare goed” wat hy kan doen, soos om die kwessies met die provinsiale polisiekommissaris op te neem, 'n werkbare plan in plek te stel en Mahumapelo kan selfs van die slagoffers van plaasaanvalle persoonlik besoek.

Luidens 'n verklaring van AfriForum was daar in April 'n plaasaanval op Ottosdal. Daar is op 5 Mei iemand op 'n plaas by Leeudoringstad, asook in 'n afsonderlike voorval op 9 Mei op 'n plaas by Wolmaransstad aangerand. Greyling is op 16 Mei op sy plaas ten aanskoue van sy vrou, Marlette, doodgeskiet. Sy is ook gewond. 'n Klag van poging tot moord word deur die polisie ondersoek. Op 30 Mei was daar 'n plaasaanval by Basfontein/Derby. Blackie van den Berg is Vrydag (2 Junie) wreed in haar plaashuis aangerand en deur twee mans met klapmusse aan beroof. Die verdagtes, onderskeidelik 21 en 24, is kort daarna aangekeer en is steeds in aanhouding.

OFM-nuus het Maandag berig oor 'n egpaar wat Sondag helder oordag op hul plaas in die Makwassie-distrik oorrompel is. Die egpaar se name word weerhou.

AfriForum se Marius Müller het gesê die egpaar het Sondag omstreeks 12:00 ná kerk van die dorp af teruggekeer. Hulle is by hul motorhuis deur drie gewapende mans ingewag en in die huis in gedwing. Die egpaar is in die huis aangehou en moes kos en drank aan die aanvallers bedien.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.