On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Gewelddadigheid in plaasaanvalle neem toe, meen boer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:12 Mon, 19 Jun 2017

Gewelddadigheid in plaasaanvalle neem toe, meen boer  | News Article
Supra Mahumapelo

Lichtenburg - Daar is 'n drastiese toename in die vlak van geweld in aanvalle op plase in die westelike deel van Noordwes.


Johan Terblans, 'n boer en lid van Biesiesvlei Landelike Veiligheid, meen dié toename is veral duidelik sedert die dood van die 16-jarige Matlhomola Mosweu op Coligny vroeër vanjaar.

Phillip Schutte en Pieter Doorewaard word daarvan verdink dat hulle Mosweu van 'n bakkie afgegooi het nadat hulle hom en nog 'n kind in hul werkgewer se landerye betrap het waar hulle na bewering sonneblomme gesteel het.

Die beskuldigdes voer aan Mosweu het van die bakkie afgespring toe dit stadig om 'n draai gery het en dat hy later aan sy beserings beswyk het.

Terblans sê daar het ‘n verandering plaasgevind in die distrik sedertdien. Aanvallers is meer gewelddadig in aanvalle op plase. Hy meen politieke retoriek deur die regering asook Noordwes se premier, Supra Mahumapelo, vuur gewelddadigheid in plaasaanvalle aan.

Daar is reeds nie “agting vir mense se lewens” as dit by plaasaanvalle kom nie, en met dié retoriek “ontplof die mate van gewelddadigheid teen slagoffers”. Daar word nie twee keer gedink om hulle erge leed aan te doen nie, meen hy.

Biesiesvlei se Landelike Veiligheid bestaan hoofsaaklik uit plaaslike boere. Hy sê hulle ontvang baie ondersteuning van onder meer plaaslike sekuriteitsmaatskappye wat aktief in onlangse plaasaanvalle in dié gebied was.

OFM-nuus het vroeër berig dat AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof, Ernst Roets, Mahumapelo daarvan beskuldig het dat hy nie sterk standpunt ingeneem het teen 'n reeks plaasaanvalle in die Sannieshof-distrik vanjaar nie. Roets het gesê Mahumapelo moes daadwerklik opgetree het en ook meer uitgesproke wees, soos die geval was nadat geweld ná die Mosweu-voorval op Coligny uitgebreek het. Mahumapelo het té vinnig ingegryp en het politieke toesprake gelewer waarin "Afrikaners geblameer is vir wat daar gebeur het," het Roets gesê.

In gevalle waar dit by die aanspreek van plaasaanvalle of die proaktiewe optrede teen plaasmoorde kom, ontbreek die element van 'n politieke wil volgens Roets. Mahumapelo is nie sigbaar genoeg nie en kon baie "tasbare goed” gedoen het ná die plaasaanvalle. Hy kon onder meer 'n werkbare plan in plek gestel het en selfs van die slagoffers van plaasaanvalle persoonlik besoek het.

Terblans sê BC Greyling is op 16 Mei op sy plaas in die Sannieshof-distrik sowat 80km van Coligny ten aanskoue van sy vrou, Marlette, koelbloedig doodgeskiet. Blackie van den Berg, wat sowat 10km van die Greylings af in dieselfde distrik bly, is vroeër vandeesmaand erg op haar plaas aangerand. Sy is ook verkrag. Nog 'n boer, Hanno Steyn, is Vrydag in die Lichtenburg-distrik sowat 40km van Coligny voor sy 75-jarige ma Zachie in ‘n slaapkamer in hul plaashuis doodgeskiet.

Hy meen dié aanvalle het gevolg kort ná die Coligny-voorval in April.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.