On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Foto's uit vervloë era: Bloemfontein se sandsteenstadsaal

───   14:42 Fri, 23 Jun 2017

Foto's uit vervloë era: Bloemfontein se sandsteenstadsaal | News Article

Op 21 Junie 2017 is Bloemfontein tot in sy fondamente geruk en geskok oor die afbrand van sy historiese sandsteenstadsaal deur vandale, ingetrek deur die munisipale staking in die stad.


Hierdie historiese gedenkwaardigheid is deel van die unieke Pres. Brandstraat met al sy ou geboue uit 'n vervloë era en die straat is as sodanig 'n verklaarde erfenisbewaringsgebied.  

Nou is die mooi prentjie erg gekneus deur 'n sinnelose daad...

Hierdie stadhuis dateer uit 1936 en het die ou stadsaal wat in 1883 in Maitlandstraat opgerig is, vervang.  Ná Uniewording in 1910 was laasgenoemde uiteraard nie meer indrukwekkend genoeg vir Bloemfontein as geregtelike hoofstad nie.

Nieteenstaande talle haakplekke wat die nuwe stadsaal-projek omvou het en gekniehalter deur die depressiejare van die vroeë 1930’s en 'n eindelose geredekawel van alle rolspelers oor die geskikste terrein, het die Britse prins George in 1934 die hoeksteen gelê en die graaf van Clarendon, goewerneur-generaal van Suid-Afrika, die gebou in Desember 1936 geopen.

Aanvanklik was die twee statige torings van die struktuur nie deel van die bouplanne nie om koste te bespaar. Deur die ingryping van onder andere die argitek, Gordon Leith van Johannesburg, het die torings tog die lig gesien en die gebou, wat andersins  nogal 'n stroewe gebou sou wees, se argitektoniese aansien gered.

Die meerderheid inwoners was hoogs tevrede en trots op hulle nuwe stadhuis. Daar is ook opgemerk dat Bloemfontein die landswye stadhuis-tradisie verbreek het van massiewe geboue met 'n sentrale kloktoring en sterk Victoriaanse en Edwardiaanse kenmerke. Met sy lae, eenvoudige en uitgerekte voorkoms, onderbreek deur sy indrukwekkende twee torings, het dit die nodige deftigheid aan die stad verleen.

Nou is die stadsaal waarin prinses Elizabeth (vandag koningin Elizabeth) en haar suster, prinses Margaret, vrolik met oudsoldate gedans het tydens die amptelike bal toe die Britse koningsgesin die stad in 1947 besoek het, 'n somber afgebrande murasie...   


(Hannes Haasbroek van die Nasionale Museum, Bloemfontein)

Gallery

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.