On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Wyle oom Piet as ‘unieke, goeie mens’ beskryf

───   MARK STEENBOK 15:44 Wed, 16 May 2018

Wyle oom Piet as ‘unieke, goeie mens’ beskryf | News Article

Die bekende sakeman, Piet Els, wat hierdie week in die Mediclinic Gariep in Kimberley gesterf het, was ‘n sagte en private mense wat altyd vir ander gegee het sonder om dit aan die wêreld uit te basuin.


Dit is volgens sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest.

Els is Maandagaand in die intensiewesorgeenheid oorlede nadat hy reeds vir 111 dae gehospitaliseer was. Hy en Alsemgeest het ‘n gru-plaasaanval tien kilometer buite die dorp in Januarie oorleef. Els én Alsemgeest het veelvuldige beserings opgedoen nadat hulle deur vier booswigte oorval is.

Alsemgeest, wat reeds uit die hospitaal ontslaan is, sê dit was afgryslik wat met Els gebeur het, maar voeg by dat hy in ‘n beter plek is.

“Ons kry ongelooflike steun van almal rondom ons. Dit hou ‘n mens staande, maar ons kry swaar en dit is moeilik. Dit was ‘n lang pad gewees - dan beter en dan slegter. Alhoewel dit moeilik was om afskeid te neem, doen jy dit vir hom eerste, want hy kon nie weer nie. Ek het die ander kant van hom leer ken, en ek het die mens Piet Els geken. Hy was ‘n goeie en unieke mens gewees en het ‘n goeie sin vir humor gehad.”

“Ek is bly ek kon ses jaar saam met hom deurbring - ideaal sal jy langer wou, maar die Here het ander planne gehad,” sê Alsemgeest.

Die polisie het bevestig dat ‘n aanklag van moord nou by die klagstaat gevoeg gaan word. Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê drie mans het reeds in die hof verskyn in verband met die aanval en sal na verwagting weer op 16 Mei voorkom.

‘n Negentienjarige vrou het ook verlede week in die hof verskyn nadat sy in die besit van gesteelde goedere gevind is. Die ondersoek in die saak duur voort.

‘n Roudiens vir Els sal Saterdag uit die Diamandstad Tabernakel gehou word.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.