National
Regering geskok oor wit-plaasgemeenskap─── 06:37 Thu, 23 May 2013
Pretoria - Die regering sê hy is geskok dat daar steeds burgerlikes is wat nie in 'n demokratiese Suid-Afrika wil integreer nie. Phumla Williams, regeringswoordvoerder, het gister gesê die disintegrasie is uiters teleurstellend omdat dit die euwels van die apartheidera voortsit. Williams het reageer op 'n berig in The Times dat die inwoners van Kleinfontein, naby Pretoria, besluit het dat slegs Afrikaners toegelaat sal word om in dié plaasgemeenskap te woon. Almal wat tans in dié gemeenskap woon – van die veiligheidswagte by die hekke tot die tuinwerkers – is Afrikaans. Jan Groenewald, voorsitter van die gemeenskap se beheerliggaam, het gesê elke inwoner moet 'n "Afrikaner van 'n Voortrekker-herkoms en 'n Protestantse Christen wees, en moet by die Bloedrivier-gelofte hou". Williams het gesê alle Suid-Afrikaners word gereguleer deur die grondwet, wat voorsiening maak vir mense van alle rasse en gelowe. Sy het gesê inwoners van Kleinfontein baat ook by regeringsdienste. Groenewald het gesê die gemeenskap sal die Tshwane-munisipaliteit vra om onafhanklik verklaar te word.
Sapa
Sapa
