On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

News Talk

P.G. du Plessis se heiligdom

───   10:15 Thu, 08 Jun 2017

P.G. du Plessis se heiligdom  | News Article
P.G. du Plessis Foto: Maroela Media

Ek het die geleentheid gehad om wyle dr. P.G. du Plessis een keer in my lewe te ontmoet.


Ek was ’n Honneursstudent in Joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, en moes as deel van my kursus ’n onderhoud met ’n media-persoon voer.  


Nou, wanneer die meeste mense aan P.G. du Plessis dink, is hulle geneig om dit te vereenselwig met sy letterkundige werke. Nag van Legio, Siener in die suburbs en die geliefde Koöperasiestories vorm deel van ons Afrikaanse kultuurskat. Sy werk as joernalis, onder meer as assistent-redakteur by Die Transvaler in die laat sewentigs en later as hoofredakteur van Pretoria se middagkoerant, Hoofstad, in die vroeë tagtigs, kom egter min ter sprake. Dit is hiermee in gedagte wat ek destyds ’n groot kans gewaag het en ’n onderhoud met die beroemde man probeer reël het. (Ek het geweet dat hy op ’n plaas by Rysmierbult, naby Potchefstroom woon.)


Groot was my skok en verbasing toe hy so waar as vet aan my ’n onderhoud toestaan! Ek en my dosent van daardie jare, Johannes Froneman, klim toe in sy kar, omdat my eie skedonk nie die grondpaaie van Rysmierbult sou oorleef nie. So is ons toe vort uit Potchefstroom een sonskynmiddag, om met P.G. du Plessis te gesels oor sy tyd in die media. Nodeloos om te sê het hy nie teleurgestel nie.


Vir ure lank het hy ons vermaak met staaltjies oor mense soos Marius Jooste, die berugte destydse hoof van die voormalige Perskor, die tyd van die Inligtingskandaal, en die onstuimige politiek van daardie tyd. Volgens hom was dit nie vreemd om kwaai foonoproepe van die eertydse staatspresident, P.W. Botha, te ontvang nie. Vir ’n nat-agter-die-ore, voornemende joernalis was die onderhoud soos om die spreekwoordelike pot goud aan die einde van die reënboog te vind!


Maar wat ek veral van die man onthou, is sy gasvryheid, die heerlike sjokoladekoek wat sy vrou, Marie, vir ons aangebied het, sy uitbundige lag, sy energie, die talle sigarette wat hy gerook het tydens ons onderhoud, en in besonder die kamer waarin ons was – ’n studeerkamer weg van die hoofhuis af. Hy het dit met sy eie hande gebou van klip uit die omliggende omgewing. Die mure was van die vloer tot teen die plafon stampvol boeke: ’n Gewyde plek van kennis, woorde, kuns, en privaatheid.


En nou ná sy dood, so kort op die hakke van ons ander groot skrywer, Karel Schoeman, besef ek opnuut hoe gelukkig ek was om in daardie heilige plek toegelaat te kon word.


OFM-nuus/Dane Beisheim

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.