On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Dr. Kobus Laubscher: Singapoer se ontwikkeling het lesse vir Afrika en Suider-Afrika

───   09:28 Wed, 19 Jul 2017

Dr. Kobus Laubscher: Singapoer se ontwikkeling het lesse vir Afrika en Suider-Afrika | News Article
dr. Kobus Laubscher

In ‘n onlangse verslag van die Brenthurst-stigting, “Why Singapore works - Taking the right lessons” word die waarde van werklike verbintenis tot volhoubare ekonomiese ontwikkeling ondubbelsinnig omskryf deur die twee outeurs, Olusegun Obasanjo en

 


Greg Mills.

Wat veral duidelik is, is dat nie Singapoer se koloniale verlede en/of outoritêre leierskap bygedra het tot die indrukwekkende ekonomiese veranderings nie, maar eerder fokus op die regte spelbrekers!  Suid-Afrika het immers onlangs ‘n goeie kwota politiekery ervaar oor die beweerde nalatenskap van kolonialisme en ‘n mens kan dink dat kritici in staat sou wees om te wys dat kolonialisme nie kon bydra tot ekonomiese ontwikkeling op ‘n vlak wat Afrika so broodnodig het.  Gemeet teen die standpunte in hierdie verslag van die Stigting, kom ons nie oor die dwarslatte nie, al spring ons hoe hoog!

Met die oorname van die regering deur Lee Kuan Yew in 1965 het die eiland staat van minder as 600 vierkante kilometer, min te bied gehad.  1.6 miljoen mense het te midde van religieuse, etniese en etniese skeidingslyne in hoofsaaklik krot buurte gewoon en die hele ekonomie was ingestel op bediening van koloniale behoefte, insluitende skeepswerwe.


Vyftig jaar later was die GBP per capita van $52 887, 50 keer meer as met onafhanklikheidwording en ‘n stewige 20% meer as dié van die Verenigde Koningkryk (Singapoer was ‘n Britse kolonie!).  Interessant is die feit dat Singapoer in 1968 Kenia besoek het om daar te gaan leer van ontwikkeling aangesien Kenia op daardie stadium meer ontwikkeld was! Sub-Sahara Afrika se per kapita GBP het oor dieselfde tydperk van ‘n baie beskeie $200 toegeneem tot $1000.  Die destydse Keniaanse narratief sou mens laat hoop dat die Chinese by Suid-Afrika kom leer – wat om nie te doen nie!

Kolonialiste het streng beheer van alles gevestig, daarmee inheemse welvaartskepping beperk en deur middel van proteksionisme, blanke setlaars, koloniale maatskappy en monopolie kapitaal verryk.  Na-koloniale vryheid het dikwels Afrika  leiers in posisies geplaas waar hulle as diktators bevoordeling beperk het tot diegene wie hulle ter wille was – die omvang en impak van die beweerde (en toenemend bewese) staatskaping in Suid-Afrika herinner daaraan.  Vry van rassisme wat koloniale dispensasies verkeerdelik as demokrasie gesien het, was hoegenaamd nie voldoende voorwaardes vir broodnodige ekonomiese ontwikkeling nie.


Singapoer se leiers het ‘n deeglike besef gehad van die kwesbaarheid van hul land en het ontwikkeling anders aangepak.  Leierskap binne ‘n streng beheerde ekonomie is beslis verkeerd verstaan deur diegene wie dit wou nadoen, as sou die Asiatiese lande floreer on diktators.  Daardie “diktators” het egter ‘n plan gehad en verbeeldingryke  groei strategieë onverskrokke geïmplementeer.

Afrika en veral lande in Suider-Afrika het volgens Obasanjo en Mills tien lesse te leer. Eerstens handel dit oor wat die rol van die staat behoort te wees. President Lee het ontwikkeling deur samewerking as die enigste oplossing gesien – die staat en die privaat sektor as ‘n span.  Die staat was verantwoordelik vir bemagtigende strukture en beleid met die privaat sektor wat die ontwikkeling gedoen het. Tweedens is die koloniale nalatenskap omskep tot vrugbare ontwikkeling geleenthede wat infrastruktuur aanbetref. Dit is gehefboom, nie verteer soos in baie ander lande ná kolonisasie nie.  Singapoer se toekoms was dus nie afhanklik van nalatenskap van die kolonialiste nie.

Derdens is sterk institusionele maar inklusiewe onderbou nodig wat veral privaat inisiatief vlug gegee het.  Daar is staatgemaak op ‘n versameling van institusies om gesamentlik ontwikkeling te dryf. Vierdens het Singapoer die beste bewys gelewer van grenslose markte en het globale teenwoordigheid Singapoer oral en saakmakend as vennoot gevestig deur integrasie van intensies, vermoë en aflewering.  Daar was geen sprake van nasionalisering nie en die sukses is ‘n vingerwysing vir diegene met los tonge oor nasionalisering.  Met hierdie benadering word gevolg gegee aan die vyfde les, naamlik die skep van infrastruktuur as middel to versnelde ontwikkeling.  Hoeveel soortgelyke inisiatiewe het gestop by die oprigting van strukture wat nou as wit olifante, geld vreet?  

Die sesde en seker belangrikste les in ‘n Afrika konteks, is vir regering om as kataliste op te tree en nie as kapers nie!  Ongelukkig geld die omgekeerde selfs in moderne ontwikkelings ideologie wat afgedwing kan word.  Een van die grootste struikelblokke is wanneer arbeid en kapitaal se belyning verlore gaan. Singapoer het vroeg vroeg arbeid verhouding vasgevat en sodoende voorkom dat die stert die hond swaai.  Suid-Afrika sukkel onder andere hiermee.  Sterk leiers wat inklusief soek na oplossings moet in staat wees om dapper en dikwels ongewilde besluite te neem. In ‘n voorverkiesing fase is die plaaslike afwesigheid van dapper besluitneming al hoe duideliker en so gaan ‘n verdere les verlore. Internasionale verbintenisse is belangrik, maar kan nie verslawend word nie en moet tot die betrokkenes se voordeel gebruik word.  In die tiende plek moet hulp van buite soos vanaf die Internasionale Monetêre Fonds gebruik word en lande moet nie daarop aangewese wees nie.

 Die Suid-Afrikaanse Minister van Finansies se sogenaamde 14 punt plan om die land uit ‘n resessie te kry, ruik dalk na so ‘n benadering.  Herstel van lokale ekonomiese veerkragtigheid kan nie afhanklik wees van enige hulp van buite nie. Dit kan hoogstens ekonomiese veranderings aan die gang skop, maar daarna moet die ekonomie op eie stoom kan loop.


Outeur: Dr. Kobus Laubscher (PhD)

Agricultural Economist/Landbou-ekonoom 

M.Inst.D & Fellow, World Academy of Productivity Science

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.