On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Droogtetoestande in NK kan wegholbrande veroorsaak

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:09 Tue, 30 Oct 2018

Droogtetoestande in NK kan wegholbrande veroorsaak | News Article

Met verwoestende brande wat in die George-gebied in die Wes-Kaap voortwoed, word daar opnuut 'n beroep op boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap gedoen om op hul hoede te wees vir brande wat kan uitbreek.


Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in dié provinsies vra boere om veilig te wees en steeds voorsorgmaatreëls te tref teen wegholbrande. Die departement se woordvoerder, Phemelo Manankong, sê in die bloedige warm weer, en met sterk wind is die risiko vir wegholbrande in dié provinsie hoog. 

Manankong sê 33 000 hektaar grasveld in die John Taolo Gaetsewe-distrik op die plaas Wonderwerk buite Kuruman is onlangs in 'n wegholveldbrand verwoes. Daarmee saam is 60 000 hektaar grasveld in die Boshof-gebied in die Vrystaat, aangrensend tot die Noord-Kaap, verwoes.    

Dit moet 'n prioriteit wees om die risiko van veldbrande te verminder, asook om die brande wat tydens die droë seisoene voorkom, te bekamp. Jaarlikse veldbrande lei tot rampspoedige skade aan natuurlike weidingsgrond, diere en eiendomme, terwyl dit in sommige gevalle tot lewensverlies lei.

Hy sê sowat 5 923 hektaar weidingsgrond is deur veldbrande in Majeng in die Magareng-munisipaliteit verwoes. In die brand is bykans 26 weidingskampe geraak, 37 kleinboere en 926 grootvee en 200 kleinvee is geraak.

Die departement rig 'n pleidooi aan boere, plaasbewoners en motoriste om veilig te wees wanneer hulle met oop vure te doen het. Hulle moet ook versigtig wees wanneer daar met werktuie en ander masjinerie in die veld gewerk word. Motoriste wat rook, moet ook nie stompies van sigarette by voertuie se vensters uitgooi nie. Dit geld ook vir voetgangers wat stompies in die veld gooi. 


OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.