On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

PODCAST: Landbounuus om 13:30

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:11 Mon, 12 Nov 2018

PODCAST: Landbounuus om 13:30 | News Article

'n Hittegolf word vandeesweek in die grootste deel van die sentrale binneland voorspel.


'n Voorspeller by die Bloemfonteinse weerkantoor, Elani Claassen, waarsku 'n hittegolf tref die grootste deel van die  Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap en sal minstens tot Vrydag duur.

Sy sê die kwik sal vandeesweek stelselmatig styg en teen Vrydag kan bloedige temperature verwag word. Daar is ook 'n hoë brandgevaar.  In Upington word 42 grade Celsius en in Kimberley 39 grade Celsius voorspel. In Bloemfontein word maksimum dagtemperature van 37 grade Celsius en in Taung in Noordwes 'n maksimum dagtemperatuur van 40 grade Celsius verwag. Claassen vra boere om, waar moontlik, nog beter om te sien na hul vee.

Claassen sê teen die naweek kan dagtemperature ietwat daal, maar warm toestande kom steeds voor.

President Cyril Ramaphosa het in die oë van die buiteland sy beeld as president skade aangedoen, toe hy in 'n media-onderhoud in New York, Amerika, gesê het boere en wit boere word nie in Suid-Afrika vermoor nie. Dit is volgens die Vryheidsfront Plus se leier, Pieter Groenewald, wat verlede week in 'n vraag-en-antwoordsessie in die Parlement in 'n opvolgvraag aan  Rampahosa gevra het of hy bereid is om verskoning te vra aan die geliefdes van boere wat in Suid-Afrika op plase en kleinhoewes vermoor is. Groenewald sê Ramaphosa het toe nie heeltemal erken dat hy 'n leuen daaroor verkondig het nie en het in die Parlement verwys na swart mense wat ook op plase en kleinhoewes vermoor word. Groenewald, sê al is hy ontevrede met Ramaphosa se terugvoer, is dit nou ten minste op rekord geplaas. 

EN

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) kap ook na President Cyril Ramaphosa oor sy reaksie op die Amerikaanse president, Donald Trump, se onlangse tweet oor die grootskaalse moorde op boere in Suid-Afrika.

Die IRR se projekbestuurder, Terence Corrigan, sê weens die klein aantal boere in Suid-Afrika is dit misleidend om die aantal plaasmoorde en aanvalle aan te haal. Die koers van plaasmoorde moet eerder gebruik word.

Hiervolgens word jaarliks gemeet hoeveel boere uit elke 100 000 boere vermoor word. Dit kom nadat Ramaphosa by 'n vorige geleentheid in die Parlement gesê het,  volgens die misdaad-statistieke is ongeveer 21 000 moorde in Suid Afrika in die 2017/18 finansiële jaar gepleeg. Daarvan was 62 moorde op plase en kleinhoewes.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.