On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Droogtesituasie groot uitdaging vir boere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:12 Fri, 11 Jan 2019

Landbounuus-podcast: Droogtesituasie groot uitdaging vir boere | News Article

Die departement van landbou in die Noord-Kaap beklemtoon opnuut die belang van 'n goeie samewerkingsooreenkoms tussen die polisie en boeregemeenskappe.


Só sê die departement se woordvoerder, Phemelo Manankong, in reaksie op die vonnisoplegging van die veroordeelde moordenaar, Hendrik Dawson, van Kakamas in die Noord-Kaap.Dawson is onderskeidelik 15 jaar tronkstraf en 'n lewenslange vonnis opgelê vir die moord op 'n afgetrede boer, Jan Hough, in 2017. Manankong sê die departement verwelkom dié hooggeregshof in Kimberley se uitspraak. Dít stuur opnuut 'n streng boodskap aan booswigte dat geregtigheid seëvier.


Manankong sê goeie verhoudinge tussen werkgewers en hul werkgewers kan 'n  verskil maak aan die misdaadsituasie in landelike gebiede.


OFM-nuus het kort ná dié moord op 8 November berig dat Hough se lyk in 'n oop veld naby Spieëlkop by Kakamas gevind is. Hy het steekwonde in die kop en agter in die nek gehad. Francois Steenkamp, polisiewoordvoerder, het toe gesê Hough het met sy bakkie gery om Dawson, wat toé sy tuinwerker was, te gaan haal. Hy het nooit teruggekeer nie. Iemand wat Hough ken, het Dawson in sy bakkie sien rondgery en kon die voertuig voorkeer, maar Dawson het weggehardloop. Die polisie, wat toé op die moordtoneel was, het inligting ontvang dat 'n man aan iemand erken het dat hy 'n moord gepleeg het. Dawson is aangekeer en in November verlede jaar skuldig bevind aan aanklagte van moord en roof.


Daarmee saam sê Agri SA se president, Dan Kriek,  daar is talle uitdagings vir 2019 waarvan veiligheid in landelike gebiede een is.


Hy verwys na dié organisasie se Agri Securitas Trustfonds wat boeregemeenskappe befonds om hulself meer doeltreffend te beveilig, maar daar is steeds 'n tekort aan geld.  Volgens hom moet daar voortgegaan word om die polisie aanspreeklik te hou vir goeie dienslewering. 


Die droogtesituasie in groot dele van Suid-Afrika, veral in die Noord-Kaap, dele van die Vrystaat en Noordwes is nog 'n groot uitdaging wat boere al die afgelope twee seisoene lamlê. Imtiaz Sooliman, voorsitter en stigter van Gift of the Givers, sê die  organisasie sal voortgaan om verdere hulp aan boere in dié droogte-geteisterde dele van die land in die vorm van vee-voer-skenkings te verleen, ondanks verskeie tekorte.    


Die organisasie het in 2017 begin om onder meer vee-voer-hulp aan boere in die Sutherland-gebied te verleen en het daarna na meer landbou gemeenskappe uitgereik. 


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.