On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: NK regering gee geld vir brandstof aan GOTG

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 16:56 Mon, 14 Jan 2019

Landbounuus-podcast: NK regering gee geld vir brandstof aan GOTG | News Article

Die Noord-Kaapse regering het geld beskikbaar gestel aan die Gift of the Givers-stigting (GOTG), wat veevoerskenkings en ander noodsaaklikhede aan gemeenskappe in droogtegeteisterde gebiede in dié provinsie verskaf.


Die organisasie is 'n noodlenigingsorganisasie wat verligting bied aan slagoffers van natuurlike rampe en politieke geweld plaaslik en op internasionale vlak. Imtiaz Sooliman, wat die organisasie op die been gebring het, sê dié organisasie het  van Augustus 2017 tot Desember dieselfde jaar veevoer aan kommersiële- en nuwelingboere in Sutherland en ander dele in die Noord-Kaap afgelewer.  

Hy sê in Mei 2018 het die Sutherland-landbougemeenskap weer 'n noodkreet om hulp na die organisasie uitgestuur. Nog veevoer, kospakkies en ander noodsaaklikhede is versprei. Daarmee saam het 'n span van GOTG sedertdien meer as 160 boorgate geboor, nadat die meer as 200 bestaande boorgate, opgedroog het.

Sooliman sê die Noord-Kaapse premier, Sylvia Lucas, het láát verlede jaar met die betrokke provinsiale staatsdepartemente vergader. Daar is besluit dat dringende ingryping nodig is en dat uitdagings rakende die regering se tenderproses aangepak moet word. Sooliman sê 'n onvoltooide projek in Springbok gaan nou afgehandel word en 95 000 liter brandstof is aan GOTG beskikbaar gestel om veevoerskenkings na gebiede te vervoer. 


Intussen sê Agri SA se president dat dié organisasie se droogterampfonds hulp verleen aan boere wat sukkel om hul vee te voer in gebiede wat weens die droogte in 'n wurggreep is. Kriek sê hy is bekommerd oor die droogtesituasie en veral dat mense nie die massiewe probleem en effek daarvan besef nie.


Besoek Agri SA se webwerf vir meer inligting oor dié rampfonds.

EN

Vrystaat Landbou gaan die naasbestaandes van 'n polisiebeampte en twee boere van Koffiefontein, wat in 'n skietvoorval op 'n plaas in die gebied dood is, besoek. Dit kom nadat die 60-jarige Paul Nel, 'n lid van dié organisasie Donderdagaand deur sy buurman, die 36-jarige Coenie Badenhorst, op sy plaas Dassieskop doodgeskiet is. Badenhorst het Nel na bewering al voorheen gedreig. Badenhorst is gewond in 'n skietery met die polisie wat op Nel se plaas opgedaag het. Hy het later aan sy wonde beswyk. Vise-president van dié organisasie, Tommie Esterhuyse, sê die landelike beveiligingsplan is vinnig in werking gestel en Badenhorst het skote op dié betrokkenes afgevuur. 'n Polisiebeampte, Vyani March, is in die oor-en-weer skietery op die toneel dood, terwyl sy kollega, George Calvert, gewond en na 'n hospitaal in Kimberley vervoer is. Esterhuyse sê daar was ná wat verneem word konflik tussen Badenhorst en Nel.   

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.